Pendoring se Prestige-wenner geniet haar gate uit (en leer baie) in Texas

“Van boeiende kort rolprente tot Spiderman-karaoke by SXSW-fees”

 

“’n Skeppende inspuiting, ’n fees vir die sinne en ’n stewige skop op die agterstewe: dít alles ‘opgerol’ in een groot Texas-avontuur. Hierdie interaktiewe rolprent- en musiekfees was eenvoudig ’n onvergeetlike, unieke ondervinding. Elke musieknoot, elke hoekie en draaitjie van Austin het genoeg plofkrag gehad om ’n skeppende leër te laai.”

Dit is hoe Dominique Swiegers, tweemalige wenner van Pendoring se gesogte Prestige-toekenning en kopieskrywer van King James, Kaapstad, haar leerondervinding vroeër vanjaar by die SXSW-fees in Texas beskryf. Nadat die skeppende span van King James in 2016 vir die tweede jaar agtereenvolgens die Pendoring Prestige-toekenning gewen het (met inbegrip van ’n studiereis van R100 000), was sy gelukkig genoeg om die verkose persoon te wees om die SXSW-fees in Maart vanjaar in Texas by te woon.

“Om hoogtepunte van hierdie fees uit te sonder, is nie maklik nie. Dus gaan ek maar net ’n paar lukraak kies wat nog lank in my agterkop sal vassteek,” sê Swiegers.

“’n Waarheid wat veral getref het in ’n praatjie deur Gareth Edwards, regisseur van Rogue One: A Star Wars Story, is dat ons almal by ’n stadium in ons lewe kom, ongeag ouderdom, waar ons voel: ‘wat het ek nou eintlik bereik?’ Dan het ons twee keuses: tob hieroor of hou op kla en begin werk. Begin eenvoudig skep, is die kernboodskap wat ek uit dié nederige regisseur se toespraak geput het. Doen wat dit ook al verg om die dinge wat jy wil vermag, te doen. Te meer, werk saam. Ja, dit klink miskien bietjie simpel, maar spanwerk is ’n eenvoudige woord met ’n magdom krag daaragter.

“Dié boodskap het in talle praatjies gedurende die week kop uitgesteek. Terwyl ons almal weet dat samewerking in ons agentskappe tot wonderlike werk lei, moet ons soms net weer daaraan herinner word. Ons moet op ons Legoblok van samewerking trap, ‘eina’ skree en onsself daaraan herinner dat dit noodsaaklik is. Dít is wat tot uitsonderlike, uitmuntende werk lei. Werk wat ons almal graag wil skep.

“Vertel ’n goeie storie. Of dit nou deur middel van woorde, beelde, aanlyn, op die groot of klein skerm is of op die agterkant van ’n vrugtesapbottel. Vertel net ’n goeie storie. ’n Ware een. Dié soort wat mense verslaaf maak, soos kinders aan suiker en volwassenes aan koolhidrate. Laat jou gehoor vra vir meer en meer…en dan nog meer.

“Maar begrawe tog die stereotipes. Doen dit reg. In Suid-Afrika, doen dit in ’n inheemse tale, waarom nie? Skep outentieke, prikkende, skreeusnaakse inhoud wat mense hoendervleis gee. Wagner Moura, hoofspeler in die reeks Narcos, die VEEP-akteurs en skrywers, SoulPancake (Rainn Wilson, ook bekend as ‘Dwight van The Office, se media en produksiemaatskappy), en selfs die sproeiverf-genieë by Castle Hill Graffiti Park, het my daaraan herinner wat dit beteken om ’n goeie storieverteller te wees.

“National Geographic en NASA se sprekers het weer vir my beklemtoon hoe belangrik dit vir ’n skeppende mens is om dapper te wees. Om dapper keuses vir jou handelsname te maak wat uiteraard ook toepaslik is vir hulle. Ek het daar in ’n gemakstoel gesit en luister na die vrou wat die eerste ‘onderwater- robotkamp vir meisies’ geskep het en gedink: moenie bang wees om na vreemde plekke in jou kop te gaan nie…jy kan altyd weer terugkom.  Pak liewer ’n ontdekkingstog aan as om knus en veilig te wees.

“Maar een ding staan soos ’n paal bo water: uitstel sal jou nie jou volgende eerbewys in die sak bring nie! Nie minder nie as 5000 kort rolprente is vir SXSW ingeskyf; net 13 is aanvaar. Wees liewer een van die 5000 wat probeer het, as iemand wat ’n swart gordel vir ginnegaap verwerf het. Ek is opnuut daaraan herinner dat vrees nie ’n skeppende mens se beste vriend is nie, dis die vyand. En in ’n land wat uit sy nate bars van honger skeppende doeners wat die eerste hou kan uitdeel, is dit raadsaam om konseptueel op die voorvoet te wees…

“Soos die rockorkes wat daardie een aand in ’n kroeg die moed gehad het om Snoop Dogg na te doen en met vlieënde vaandels geslaag het. Of die ou op die hoek, in Spiderman-mondering, wat sy hart uit ge-karaoke het.”

“SXSW was ’n les dat jy moet opstaan en werk moet skep wat ander sal laat uitroep: “Jis, ek wens ék het dit gedoen!’”