Virseker bankvas agter Pendoring

Suid-Afrika se enigste trots Afrikaanse versekeringshandelsmerk, Virseker, het sy passie vir dié taal onlangs onderstreep met die aankondiging van sy mede-borgskap van die 2017 Pendoring-reklametoekennings. Dit is die eerste keer dat Virseker hom as borg agter Pendoring skaar.

Virseker is sedert sy ontstaan in 2011 alombekend vir sy dienslewering in, en ondersteuning van, Afrikaans – die hartstaal van ’n diverse en kleurryke versameling Suid-Afrikaners:

Benewens tradisionele versekering – soos motor-, huis-, draagbare-goedere- en gebouversekering – bied Virseker ook ’n wye reeks ondersteuningsdienste, wat Huis-, Pad-, Vermaaklikheids-, Trauma-, Wegsleep-, Regs- en Mediese bystand, tesame met die hoogs gewilde Gatsak-bonus, insluit.

Virseker se passie vir Afrikaans brand egter veel dieper as net versekering:

Verhoogproduksies soos Afrikaans is Groot lok jaarliks derduisende toeskouers na uitverkoopte vertonings, waar die beste in Afrikaanse musiek ten toon gestel en gevier word.

Die Virseker Trust, danksy ’n deel van polishouers se premies wat daaraan gewy word, lê klem op die bevordering van Afrikaanse onderrig, waar reeds meer as R10 miljoen in, onder andere, die vestiging van ’n blinknuwe Afrikaanse universiteit, Akademia, verskeie studiebeurse vir uitblinkstudente, die Rapport Onderwysfonds en die ontwikkeling van Afrikaanse leertoepassings belê is.

Virseker het ook onlangs die stap gedoen om in Afrikaanse sport-ontwikkeling te belê deur as hoofborg tot die Virseker Beker, voorheen bekend as die Beeldtrofee, toe te tree.

Volgens Dawid Botha, woordvoerder van Virseker, is Pendoring vir hulle ’n natuurlike pasmaat: “Pendoring bied reeds meer as twee dekades lank ’n eersteklas platform om uitnemendheid in die Suid-Afrikaanse reklamebedryf te vier. ’n Groot deel daarvan is innovering en kreatiwiteit wat in Afrikaanse ink uiting op papier vind, en uiteindelik in ’n Afrikaanse media-vertoonkas geraam word. Dit is vir ons ’n reuse eer en voorreg om bankvas agter Pendoring in sy geheel te staan en ook die ‘Oorspronklik Afrikaans’-kategorie te borg.”

Dié kategorie is oop vir alle reklamemediums en fokus uitsluitlik op enige advertensie wat oorspronklik in Afrikaans gekonseptualiseer en geskep is.

Volgens Franette Klerck, Pendoring-hoofbestuurder, geniet Pendoring sterk borgskapsteun, juis omdat die toekennings die belangrikheid en waarde van moedertaalreklame erken en beloon.

“Suksesvolle handelsmerke soos Virseker wéét die beste manier om sy teikenmark te bereik en ’n emosionele band met verbruikers te vorm, is om met hulle in die taal wat hulle praat en verstaan, te kommunikeer. Hulle hartstaal,” beklemtoon sy.