PENDORING-REKLAMETOEKENNINGS MAAK WEER ‘N KAAPSE DRAAI

Terug na argief
Na ‘n hoogs suksesvolle 2012 “oorvat” van Kaapstad maak die swierige Pendoring -toekenningsaand weer sy terugkeer na die Moederstad in 2013.

Pendoring se hoofbestuurder, Franette Klerck, sê dat verlede jaar se besluit om die toekennings Kaapstad toe te skuif om saam met die jaarlikse Creative Week Cape Town te val – wyd deur die bedryf verwelkom is.

Pendoring het gevolglik besluit om die glans-seremonie vir nog ’n jaar in Kaapstad te hou – hierdie keer op Vrydag, 20 September by die Kaapstad Internasionale Konferensiesentrum (CTICC), met die Loerie-toekennings kort op sy hakke op Saterdag 21 en Sondag 22 September.

Inskrywings vir 2013 se toekennings open op 6 Mei en Klerck verwag dat die belangstelling groot gaan wees – veral gegewe die prys van ‘n R50 000 oorsese studiereis vir die skeppende span wat met die Prestige-toekenning vir ‘Beste algehele Afrikaanse inskrywing’ wegstap.

Die skeppers van die beste algehele inskrywing in die Eg Suid-Afrikaanse kategorieë sal met die Umpetha-toekenning én R20 000 beloon word. Umpetha beteken “kampioen” of “die beste” in Zoeloe. Oudergewoonte kry alle goue wenners ’n kontantprys van R6 000 en silwer-wenners R2 500. Die algehele studentewenner kry boonop ’n R10 000- studiebeurs.

“Sedert Pendoring 19 jaar gelede gestig is om agentskappe aan te moedig om in skeppende en oorspronklike Afrikaans te adverteer en hulle daarvoor te beloon, het dit ontwikkel tot ’n omvattende veldtog wat daarop gemik is om ’n groter bewustheid te skep oor hoe kragtig kommunikasie in die huistaal van die teikenmark is ? of dit nou Afrikaans, Zoeloe, Xhosa of ’n ander taal is”, sê Klerck.

“Deur in die teikengehoor se moedertaal te skep en te adverteer word nie alleen die voortbestaan van die moedertaal verseker en bevorder nie, maar ook dié van innoverende en skeppende reklame wat, met impak, by die teikenmark aanklank vind.”

“Dit lei nie net tot ’n gesonde en dinamiese reklamebedryf nie, maar is ’n aansienlike belegging in die toekoms van Afrikaans en ander inheemse tale.”

Uitvoerende skeppende hoof van Joe Public, Pepe Marais, een van die wenners van die eerste Umpetha-toekenning, prys Pendoring vir hul toegewydheid aan eg Suid-Afrikaanse reklame:

“Pendoring se Eg Suid-Afrikaanse kategorieë is daar om werk van uitstaande gehalte, gebaseer op plaaslike en relevante insigte, te beloon. Dit is dié soort werk wat Joe Public streef om aan ons kliënte te bied, want dít is wat wat waarlik by hul teikengehoor aanklank vind.”

“Ons is uiters trots daarop dat die 2012 Umpetha-toekenning vir Nike aan Joe Public en Trigger Isobar toegeken is, juis omdat dit getuig daarvan dat ons as ‘n agentskap ons mikpunt gestand doen. Erkenning deur Pendoring en ander toekennings is iets waaraan ons onsself meet – as beide ‘n maatstaf van uitnemendheid en ‘n getuigskrif van die waarde van ‘n toonaangewende agentskap.”

Trigger Isobar se skeppende hoof, Gustav Greffrath, sê hulle was oorstelp met vreugde om die Umpetha-toekenning te wen, want dit het getoon van watter kritiese belang die digitale element van ‘n geïntegreerde veldtog is:

“Nike se ‘Run Jozi’ het tegnologie op kreatiewe en effektiewe wyse aangewend om mense tot regte-wêreld aksie te dryf. Ons het plaaslike insig gebruik om die unieke digitale uitdagings te oorkom wat ons in Suid-Afrika ervaar en só aan die kliënt se vereistes voldoen.

“Ons daag alle agentskappe uit om in hierdie kategorie in te skryf. Die erkenning en beloning van werk wat plaaslik relevant is sal goeie kommunikasie aanmoedig en tot beter, eg Suid-Afrikaanse oplossings lei.”

Pendoring het die handelsmerk ‘Eg Suid-Afrikaans’ in 2012 geregistreer. Dít, saam met die suksesvolle debuut van die Umpetha-toekenning in 2012, is ’n mylpaal in die Pendoring-toekennings se evolusie - van ’n Afrikaanse reklame-tentoonstelling tot een wat Suid-Afrika se multi-kulturele demografie weerspieël.



Joe Public and Trigger Isobar neem die Umpetha-toekenning in ontvangs vir die beste eg Suid-Afrikaanse inskrywing tydens die 2012 galageleentheid.