PENDORING-WENNERS PAK TASSE VIR DIE VSA, TEDACTIVE

iPads, ’n videokamera, selfone, veiligheidsvuurhoutjies en ’n ruimtekombers is die “moet in”-items wat twee skeppende grootmenere sal inpak vir hul reis na Kalifornië en TED2013, wat deur die Pendoring-reklametoekennings moontlik gemaak is.

Skeppende hoofde Frank van Rooijen en James Yeats Smith was lede van die Ogilvy-span wat MK is gekonseptualiseer het, die veldtog wat in 2012 Pendoring se hoogste eerbetoon, die Prestige-toekenning ontvang het.

Fran Luckin, Ogilvy Johannesburg se uitvoerende skeppende hoof, het dié twee skeppendes van 1984 aangewys as die ontvangers van die oorsese studiereis van R50 000, wat deel van die Prestige-toekenning is.

In die lig van die twee se nie-tradisionele benadering tot reklame was dit glad nie ‘n verrassing dat van Rooijen en Yeats Smith gekies is om TED2013 by te woon nie, een van die konferensies wat jaarliks aangebied word deur TED, ’n nie-winsgewende organisasie wat hom toespits op “idees wat die moeite werd is om te versprei”.

TED bring mense uit drie wêrelde bymekaar – tegnologie, vermaak en ontwerp – en sluit benewens sy twee groot konferensies die bekroonde TEDTalks-videowebblad in, die Open Translation-projek en TEDConversations, die inspirerende TEDFellows- en TEDx-programme, en die jaarlikse TED-prys.

“Toe ons uitgenooi is om aan vanjaar se TEDActive-konferensie deel te neem, het dit vir ons na ’n ideale geleentheid gelyk om die prys te benut om die reis te finansier. Ons is verheug dat Pendoring so oop vir nuwe idees is en ons die geleentheid bied om die konferensie by te woon; sy aan sy saam met briljante laterale denkers te werk en beïnvloed te word deur tegnologiese vooruitgang en innoverings oor ’n reeks dissiplines wat anders as ons s’n is, maar tog verwant,” sê Yeats Smith.

Van Rooijen voeg by: “Ons het net nadat ons gehoor het Pendoring het ons reis goedgekeur die uitnodiging na TEDActive aanvaar. Die afgevaardiges bestaan uit skeppende en energieke leiers wat bymekaarkom vir ’n inspirerende week van gesprek, gedagtewisseling en innoverende idees met die gesamentlike doelwit om die kennis later met ander te deel en so tegnologiese vooruitgang te verseker.

“Wat dié onderneming twee maal so opwindend vir ons maak, is dat ons ’n rolprent vervaardig vir die Nederlandse ruimtemaatskappy, Mars One, wat teen 2023 ’n menslike nedersetting op die maan wil vestig. Dit sal die rolpent se premiere by TED wees en sal hulle pionierswerk aan die wêreld bekend stel,” sê Yeats Smith.

As deel van ’n groep van 20 uiteenlopende denkers wat deur Intel bymekaar gebring is, sal Yeats Smith en Van Rooijen bydra tot die vorming van nuwe idees en konsepte rakende die toekoms van selfoontegnologie.

“Die bevindinge van dié werksessies saam met Intel sal selfoon-innovering in die hand werk omdat ons bydra tot die bespreking van die wêreld-selfoonkongres in Barcelona, ’n groot gebeurtenis in die bedryf wat met TED saamval. Die geleentheid om op so ’n hoë vlak in wisselwerking te wees om iets tasbaars tot stand te bring, sal vir seker inspirerend wees. Ons kan nie wag nie,” sê Van Rooijen.

Japie Gouws, voorsitter van Pendoring en besturende direkteur van die ATKV-groep, sê Pendoring is verheug dat Yeats Smith en Van Rooijen die geleentheid wat die oorsese-studiekomponent van die Prestige-prys hulle bied met soveel geesdrif aangryp.

“Ja, Pendoring gaan daaroor om die gebruik van reklame in Afrikaans en ander inheemse tale aan te moedig en sodoende erkenning aan die erfenis en tradisies van alle Suid-Afrikaners te gee. Maar Pendoring gaan ook oor die toekoms, om verder as ons geografiese grense en buite ons sosiale en professionele gemaksones na inspirasie te soek.

“James en Frank het gekies om die interaksie tussen tegnologie, vermaak en ontwerp te verken. Pendoring is seker hulle sal terugkom gewapen met die kennis om ’n positiewe bydrae tot die bedryf wat ons liefhet te bly lewer.”



James Yeats Smith is tans skeppende groephoof van Now&Partners. Dit is ’n spesialisagentskap wat uit Kaapstad, Londen en Berlyn sake doen en die opdrag gekry het om die Mars One-inisiatief te bemark. Frank van Rooijen is tans skeppende hoof by Trinergy Brand Connectors.