Die Burger beskou Pendoring as ontontbeerlik

Terug na argief
Afrikaans as reklametaal durf nie verlore gaan nie, en dit sou ’n enorme verlies wees as dié taal nie meer op advertensie-agentskappe se radar is nie. Dit is waarom Die Burger met sy goue borgskap vierkant agter die Pendoring Reklametoekennings bly, sê Bun Booyens, redakteur van dié koerant wat binne twee jaar sy eeuwording vier.

“Om reklametoekennings te ondersteun, is veel meer as bloot ’n verdienstelike saak, want reklame is ’n wesenlike deel van enige koerant,” sê Booyens. Hy meen mense koop ’n koerant eerstens vir die inhoud soos die nuus, sport en vermaak , maar tog ook vir die reklame. Vir hom is dit in ’n koerant se belang om interessante advertensies te dra.
“Hoe beter die advertensies, hoe lekkerder lees die leser. Hoe nuttiger die advertensies, hoe meer relevant die koerant,” sê hy.

Op Saterdae lees Booyens self byvoorbeeld heel eerste die huis- en motoradvertensies. Daarby merk hy in winkelsentrums op dat mense dikwels advertensies uitknip en saamneem winkel toe. Hy beskou dié benutting van die gedrukte pers as deel van die diens wat ’n koerant aan ’n leser lewer en noem dit “’n wonderlike getuigskrif vir die koerant én die advertensie”.

Daarom beskou hy skeppende Afrikaans, ook in die reklame, as deurslaggewend vir Die Burger. Die taal is nog altyd Die Burger se passie, en hy beskou ’n swak advertensie byna as ’n belediging vir die leser. “Afrikaanssprekendes sien ’n swak vertaling myle ver raak en hulle beleef dit dikwels as irriterend.

Daarenteen het hulle groot waardering vir ’n adverteerder wat moeite doen met ’n skeppende advertensie,” sê hy. Dit is ook waarom skeppende reklame dikwels ’n gesprekspunt raak, wat nog ’n lekkerte is waarom Die Burger Pendoring se hand wil bly vashou.

Selfs die gebruik van rap-taal en die sogenaamde “funky” Afrikaans wat soms in reklamekopie voorkom, is vir Booyens eerder ’n aanvulling en verrykend naas die Standaard-Afrikaans van die koerant se kopie.

“Afrikaans behoort aan almal wat hom praat. Afrikaans is ’n kreoolse taal en hoe meer invloede daarop inwerk, hoe ryker word die taal,” sê hy.

Ook wat die koerantwese en nuusaanbod in die geheel betref, staan die tyd nie stil nie en moet die gedrukte pers aanpas. Oor die verwikkeling dat Media24 se koerante nou genoop word om geld te vra vir hul nuus op die internet sê Booyens die tyd het geleer ’n mens kan nie ’n sakemodel bou deur sommer net alles gratis weg te gee wat ten duurste ingesamel word nie. “’n Uiters belangrike hoofstuk in die geskiedenis van koerante lê voor,” sê hy. By hom ly dit geen twyfel nie dat almal sal besef mense sal vir gehalte betaal, veral as daardie inligting nie elders beskikbaar is nie, en dit boonop in Afrikaans.

Hy hoop dat reklameagentskappe mettertyd die nuwe manier van doen en die nuwe media deeglik sal begryp en die moontlikhede daarvan sal raaksien en benut.
“Ook Twitter en Facebook is deesdae onontbeerlike nuusbronne,” sê hy. “Mense ag die kommentaar op ’n nuusgebeurtenis as amper ewe belangrik as die nuusgebeurtenis self,” meen hy.

Daarom hoop Booyens dat die reklamewese in tandem met die media die onontginde moontlikhede sal verken om sodoende ’n volronde diens aan die leser te bied. Enige medium se inkomste bly immers sy lewensaar, sê hy.

Franette Klerck, hoofbestuurder van Pendoring, is dit met hom eens oor die belang van reklame. “Met Pendoring was die klem uit die staanspoor op kreatiwiteit, en Die Burger maak geen fout as hy sê watter plesier skerp kopie aan die verbruiker van daardie reklame verskaf nie, wat natuurlik weer tot wedersydse voordeel van die adverteerder meewerk,” sê Klerck.

Die Pendoring Reklametoekennings se inskrywings open 6 Mei en sluit 15 Julie 2013, hou www.pendoring.co.za dop, en skryf op dié webblad in. Die toekenningsplegtigheid vind op Vrydag 20 September by die KIKS in Die Burger se hartland plaas.



’n Uiters belangrike hoofstuk in die geskiedenis van koerante lê voor, sê Bun Booyens, redakteur van Die Burger.