PENDORING 2013: Eindbestemming van sukses

Terug na argief
Hart, siel en deursettingsvermoë van reklame word beloon

Hoe om sukses te behaal, gaan vanjaar die fokus van wees van die veldtog waarmee die Pendoring Reklametoekennings topspelers in die bedryf wil aanmoedig om in te skryf vir dié gewilde kopknik vir uitmuntende reklame.

Pendoring wil sodoende die beste reklame wat oor die afgelope jaar in Afrikaans en ander inheemse tale geskep is in die kollig plaas en terselfdertyd ’n ideologie wat die reklamewêreld nog meer grensverskuiwend kan maak, vier.

Die fokus van die bemarkingsveldtog is op respek, en op wat dit verg om dié waarde te bekom, te toon en te behou.

“Ons kyk vanjaar na wat dit behels om die doelwitte wat sukses verseker te behaal,” sê James Yeats Smith, skeppende hoof van NowandPartners, en regisseur van die Pendoring-bemarkingveldtog. “Die Pendorings gaan vanjaar werk bekroon wat getuig van hart, siel en deursettingsvermoë.

“Met dié veldtog wil ons op die status en meriete van die Pendoring-toekennings fokus en Afrikaans deel daarvan maak, in plaas daarvan om die klem op slegs dié taal te lê,” sê Smith. “Sukses verg baie harde werk – dit kom nie net vanself nie; dit vereis deursettingsvermoë en wilskrag van staal.”

“Ons wil erkenning gee aan die skeppendes wat dié pad in hul soeke na sukses stap – mense wat hul harte volg en hul siele uitmekaar trek in opdrag daarvan,” verduidelik Smith. “Ons fokus op skeppendes wat kontemporêre werk lewer – nie met ’n duistere agenda nie, en nie met die doel voor oë om met ander mee te ding nie. Op die ou end is elke individu sy eie beoordelaar – en dit is die definisie van respek, want dit vra ook om gerespekteer te word.”

Om dié suksesverhale te vertel, het die skeppende span van Ogilvy Johannesburg drie kortrolprente vervaardig oor Suid-Afrikaners wat rolspelers op die internasionale verhoog geword het sonder om hul integriteit in te boet: die skilder Zander Blom, die musikant en komponis Markus Smit (beter bekend as Markus Wormstorm) en die fotograwe Hasan en Husain Essop. (Besoek http://youtu.be/0NC-B1Fs_ns; http://youtu.be/r9QCD20CV3M; http://youtu.be/-P-6vRuLG20) om die kortrolprente van elke protagonis te sien.)

“Hulle het maniere gekry om hul ware filosofie en werkstyl uit te leef binne die beperkings van die gemeenskappe waarin hulle daagliks leef, en nogtans sukses behaal – op hul eie voorwaardes,” sê Smith oor Ogilvy se keuses.

Skeppendes in die reklamebedryf word vanjaar uitgedaag om weer hul beste werk van die afgelope jaar in te skryf en op die koop toe moontlik met groot kontantpryse weg te stap.

Elke goue wenner sal bekroon word met R6 000, en silwerwenners met prysgeld van R2 500. Die algehele studentewenner sal met ’n kontantprys van R10 000 wegloop, asook ’n internskap by die reklame-agentskap TBWA Hunt\Lascaris in Johannesburg.

Die goue wenner in die radiokategorie ontvang gratis lugtyd ter waarde van R150 000 van Jacaranda FM en ook R75 000 van OFM.

Hierdie is nie al pryse wat op die spel is nie: vir die Prestigewenner wag daar ook ’n oorsese studiereis ter waarde van R50 000 en die adverteerder van dié weninskrywing ontvang boonop meer as R1,2 miljoen se gratis reklame.

Die algehele wenner in die Eg Suid-Afrikaans-kategorieë (waar reklameveldtogte in enige van die 11 amptelike landstale met mekaar meeding) wen ’n kontantprys van R20 000 en die gesogte Umpetha-trofee.

Besoek www.pendoring.co.za om in te skryf of om meer inligting oor die toekennings te bekom. Die sluitingsdatum vir inskrywings is 15 Julie 2013.

Sluit vandag aan by die Pendoring FaceBook-groep, of volg @Pendoring op Twitter en maak gebruik van #Pendoring.

Die skeppende span agter vanjaar se Pendoring-veldtog is Mariana O’Kelly (uitvoerende skeppende hoof van Ogilvy Johannesburg), James Yeats Smith (kopieskrywer en regisseur), Daniel Siegler (uitvoerende vervaardiger), Jamie Taylor (beeldmenger), Kelda van Heerden (ontwerper), en Kent Andreasen (DOP). Musiek is verskaf deur Biblo.tv en Markus Wormstorm, en die maatskappy wat die veldtog vervaardig het, is NowandPartners.

Die volledige beoordelaarspaneel sal op 5 Junie aangekondig word terwyl die beoordeling van inskrywings op 15, 16 en 17 Augustus geskied. Die finaliste van vanjaar se Pendoring Reklametoekennings word op 27 Augustus bekend gemaak, en die prysuitdeling word op 20 September by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum gehou.