PENDORING: RIGTINGWYSERS OP DIE SUKSESPAD

ABSOLUUT ANDERS(ON)!

Dit is die eerste keer vanjaar dat die Pendoring Reklametoekennings twee beoordelaarspanele inspan om die mees skeppende en uitnemende advertensies in Suid-Afrika te bepaal. Hierdie reusetaak val op die skouers van 18 reklamereuse in eie reg, en een baie suksesvolle internasionale individu. Die name van die beoordelaars is pas bekend gemaak, en Sue Anderson (mede- uitvoerende skeppende hoof van Crispen, Porter and Bogusky in Los Angeles, VSA) neem die tuig op as internasionale beoordelaar.

Anderson, ‘n Suid-Afrikaner wat begin het as kopieskrywer by BLGK en later bevorder is tot skeppende hoof by TBWA Hunt\Lascaris in Johannesburg, het na 10 jaar in Suid-Afrika haar pad na internasionale sukses begin deur aan te sluit by Wieden + Kennedy in Amsterdam.

TBWA\Chiat\Day in New York het haar later oorreed om haar by hulle aan te sluit en haar horison weereens te verbreed met die kans om op veldtogte van Coca-Cola, Honda en Lego te werk. Dit is ook hier waar sy die wêreldwye bekendstelling van die bekende Sweedse uitvoerproduk, Absolut Vodka, op haar skouers geneem het, en waar sy die verbeelding van menigte skeppendes aangegryp het met haar futuristiese ‘Absolut Greyhound’ veldtog.

Anderson spog met ‘n lys gesogte wêreldbekende reklametoekennings, onder meer ses Cannes-Lions, talle One Show-potlode, Clio’s, Effies, DA&D’s en Epicas. Sy staan tans aan hoof van die Microsoft-rekening vanuit Los Angeles.

“Ek gaan my aandag vanjaar toespits op goeie idees en hoe hulle voorgelê word,” sê Anderson, “juis omdat Suid-Afrikaners se dryfkrag uniek in die wêreldmark is – as ons iets wil doen, doen ons dit na ons beste vermoë, of tot iemand anders ons keer om voort te gaan. Idees kraai koning bo taal en omstandighede, omdat die laaste twee faktore slegs die ‘geboorteplekke’ is van die idees wat ons gebruik in ons bedryf. Enige idee wat deur ‘n treffende reklameveldtog weergegee word moet die menslike gees kan raakvat, en vasvat, en dit moet natuurlik op ‘n baie unieke manier aangebied word.”

“Sue Anderson is ‘n uitstekende kandidaat om te dien as internasionale beoordelaar, aangesien sy reeds weet wat dit beteken om sukses te bereik deur harde werk,” sê Franette Klerck, hoofbestuurder van Pendoring. “Sy beskik oor die deursettingsvermoë wat dit verg om die toppunt van ‘n loopbaan in die wêreld van reklame te bereik en daarom is dit vir ons ‘n groot voorreg dat sy ingestem het om vanjaar deel te wees van die panele. Pendoring vereenselwig hom met baanbrekers wat werk van topgehalte in die bedryf lewer, wat nie net vir ander ‘n toonbeeld in die bedryf is nie, maar ook respek afdwing met die skeppende werk wat hulle lewer – Anderson is beslis een van hierdie individue.”

Die volledige paneel wat saam met Anderson die Afrikaanse kategorieë gaan beoordeel is:

Theo Ferreira; uitvoerende skeppende hoof van Aquaonline,
Leon Jacobs; uitvoerende skeppende hoof van Joe Public Kaapstad,
Jerry Mpufane; uitvoerende hoof van Jupiter Drawing Room in Johannesburg,
Ricardo Rocha; uitvoerende skeppende hoof van Etiket,
Reinher Behrens; private konsultant,
Mariana O’Kelly; skeppende hoof by Ogilvy Johannesburg,
Aaron Harris; skeppende hoof by Draftfcb Kaapstad,
Marais Janse van Rensburg; uitvoerende skeppende hoof van Dojo115,
Konstant van Huyssteen; skeppende groephoof van 99c Communications,
Antoinette Johnson; kopieskrywer by M&C Saatchi Abel

Die algehele wenner in die Afrikaanse kategorieë sal met die Prestigetoekenning vereer word, wat ‘n oorsese studiereis ter waarde van R50 000 insluit. Die maatskappy wat dié algehele wenveldtog laat skep het ontvang reklameruimte en
-lugtyd van ongeveer R2.2 miljoen.

Die beoordelaarspaneel van die Eg Suid-Afrikaans kategorieë sal aan dié algehele wenner ‘n kontantprys van R20 000 toeken as deel van die Umpetha-toekenning.

Die beoordelaars wat hierdie besluit saam met Anderson moet neem as deel van die Eg Suid-Afrikaanse paneel is:

Festus Masekwameng; uitvoerende skeppende hoof van Mojo MotherRussia,
Xolisa Dyeshana; uitvoerende skeppende hoof van Joe Public Johannesburg,
Grant Sithole; skeppende hoof by Draftfcb Johannesburg,
Kamogelo Sesing; skeppende groephoof van TBWA Hunt\Lascaris,
Tseliso Rangaka; skeppende hoof by Ogilvy Johannesburg,
Ernest “Ray-Ray” Mphande; skeppende groephoof by MetropolitanRepublic,
Theo Ferreira; uitvoerende skeppende hoof van Aquaonline,
Leon Jacobs; uitvoerende skeppende hoof van Joe Public Kaapstad,
Jerry Mpufane; uitvoerende hoof van Jupiter Drawing Room in Johannesburg

Inskrywings kan ingedien word by www.pendoring.co.za. Die sluitingsdatum vir inskrywings is 15 Julie.

Die beoordelaars sal op 15, 16 en 17 Augustus in Johannesburg beraadslaag oor die inskrywings, en finaliste sal op 27 Augustus bekend gemaak word. Die wenners word op 20 September by ‘n glansgeleentheid by KIKS in Kaapstad (Kaapstad Internasionale Konferensiesentrum) bekend gemaak.

Vir studente is daar vanjaar ‘n splinternuwe kategorie (Eg Suid-Afrikaans: Veldtog) geskep, en die algehele studentewenner stap weg met ‘n kontantprys van R10 000 en ‘n internskap by TBWA Hunt\Lascaris.



Sue Anderson, mede-uitvoerende skeppende hoof van CP&B Los Angeles, neem vanjaar die tuig op as internasionale beoordelaar op beide beoordelaarspanele.