kykNET praat nie net oor Pendoring

“kykNET het van die begin af saam gebou aan die bewusmaking van die voordele vir adverteerders om in Afrikaans te bemark,” sê Karen Meiring, hoof van Afrikaanse kanale by MNET. Dit is dié jare lange verbintenis en belegging waaraan die betaal-TV-kanaal in die DStv-stal verder bou met sy volgehoue goue borgskap van die Pendoring Reklametoekennings, sê sy.

Met dié borgskap bevestig die kanaal die waarde van Afrikaanse reklame, naamlik dat dit baie beter by die Afrikaanse kyker aanklank vind. Deur in sy of haar taal met die kyker te praat, toon die adverteerder respek vir die kyker, meen Meiring, en daarom is dit tot wedersydse voordeel van die kyker en adverteerder.
Die veel meer Afrikaanse advertensies wat kykNET deesdae kry en vertoon, bevestig dié simbiose.

Meiring meen wat tot adverteerders se waarde vir geld bydra, is dat die teikenmark van elk van kykNET se Afrikaanse kanale so gefokus is.

Dié kanale sluit in die nuwe kykNET & Kie wat ’n skraler aanbod as die volle premiepakket is, en kykNET Musiek. Die premiepakket se 800 000 intekenenare kom steeds hoofsaaklik uit die hoëinkomstegroepe, maar kykNET & Kie en kykNET Musiek is albei veel meer bekostigbaar en ’n wyer gehoor, wat pensioentrekkers en studente insluit, teken daarop in.

Volgens Meiring het nuus en aktualiteit ’n groot verskil gemaak, want nou is kykNET “nie net meer ’n vermaaklikheidskanaal nie, maar ’n kanaal wat die volle spektrum en groter relevansie bied”.

“Ons glo die goeie inhoud wat ons aan die wye verskeidenheid kykers bied, sal nog meer kykers en adverteerders lok,” sê Meiring oor die 24%-groei in kykertalle die afgelope jaar.

Sosiale media is eweneens bevorderlik om meer kykers by ’n kanaal uit te bring. “Om te ‘share’ is die inding en het ’n ongelooflike veelvuldige effek,” sê Meiring. Daarom kan kykers ook maar solank oë oophou vir MK se internetplanne.
Sy meen dat borgskappe soos dié van Pendoring ook welwillendheid onder kykers kweek. Pogings wat daarby aansluit, is benewens die hulp aan kunstefeeste en Afrikaanse rolprente die Fiëstas-toekennings vir Afrikaanse teater en die Ghoema-toekennings vir Afrikaanse musiek. “Ons hoop om hierdeur groter blootstelling aan die bedrywe te gee en nuwe talent te ontdek en te ontgin. Al hierdie inisiatiewe stimuleer die Afrikaanse mark,” sê Meiring.

Sy voeg by dat kykNET uiters lojale kykers het wat graag van hulle laat hoor – en dit nie net oor hoe ingenome hulle met die gewilde Kokkedoor en sepies Villa Rosa en Binneland is nie. As goue oues soos Fiela se kind of ’n Leon Schuster-rolprent heruitgesaai word, gons die kommunikasiekanale ook behoorlik.

Sy glo Afrikaanse televisie staan sterk met betrekking tot kultuurspesifieke inhoud, maar dat die landskap vinnig verander en ander inheemse tale ook op dié manier erkenning moet kry, byna soos wat Pendoring met die Umpetha-toekenning reklame met ’n wyer gehoor omarm.

Franette Klerck, hoofbestuurder van Pendoring, sê Suid-Afrika spog met van die beste skeppende talent ter wêreld: “En saam met die ondersteuning van ons borge sal ons aanhou om bewustheid van die trefkrag van moedertaalreklame te skep en te bevorder.”

Die Pendoring Reklametoekennings se inskrywings het reeds geopen en sluit 15 Julie 2013. Hou www.pendoring.co.za dop, en skryf op dié webblad in. Die toekenningsplegtigheid vind op Vrydag 20 September by die KIKS in Kaapstad plaas.



“Afrikaanse televisie staan sterk met betrekking tot kultuurspesifieke inhoud, maar dat die landskap vinnig verander en ander inheemse tale ook op dié manier erkenning moet kry”, sê Karen Meiring, hoof van Afrikaanse kanale by MNET