Pendoring is ‘n belangrike vertoonvenster aan die wêreld

Terug na argief
Pendoring is ‘n belangrike vertoonvenster aan die wêreld, sê Tim du Plessis, hoof van Afrikaanse koerante by Media24.

“Die Pendoring Reklametoekennings moet die fokus op Afrikaanse kreatiwiteit behou, gegewe die feit dat Afrikaans op ‘n groot reklameverhoog speel waar Engels oorheers, ” sê Tim du Plessis, uitvoerende redakteur van Afrikaanse nuus by Media24. “Op dié verhoog laat Pendoring ‘n spesiale kollig op Afrikaans val.”

Rapport en Beeld gee vanjaar weer hul volle steun as goue borge van dié reklamepryse wat nou ‘n paar nuwe danspassies in sy 19de bestaansjaar uithaal.

Een daarvan is die aankondiging van twee beoordelaarspanele om vanjaar se mees skeppende en uitnemende advertensies in Afrikaans en eg Suid-Afrikaanse reklame te bepaal.

“Afrikaanse koerante speel op ‘n baie besige markplein waar belangrike boodskappe, wat kommersiële inligting insluit, oorgedra word. Die Afrikaanse koerante is gehalte-produkte wat moet voldoen aan die redaksionele behoeftes van ‘n besonder spesifieke mark. Advertensies in dié koerante moet dus nie net voldoen aan die geleenthede wat in die nismark geskep word nie, hulle moet ook waarde toevoeg tot die reeds bestaande redaksionele inhoud. Sodra ‘n advertensie swak is, doen dit afbreuk aan die produk, diens of handelsmerk wat geadverteer word én aan die algehele gehalte van die publikasie.”

Beeld se daaglikse lesers van nagenoeg 513 000 en Rapport se meer as 1 miljoen weeklikse lesers toon duidelik daar is ‘n sterk vraag na die redaksionele inhoud van dié twee koerante.

“Hoewel digitaal tans ‘n groot prioriteit vir alle mediamaatskappye is, is reklame in die digitale sfeer nie naastenby so omvangryk en winsgewend soos in die gedrukte media nie.”

Volgens Du Plessis is dit omdat die gedrukte omgewing bekender is vir adverteerders. Dit is egter besig om vinnig te verander. Advertering in die digitale ruimte raak al hoe belangriker en is op pad om kritieke massa te bereik.

Oor moedertaalreklame sê Du Plessis: “Wêreldwyd word die waarde daarvan gerespekteer en gewaardeer. Weliswaar heers daar in Suid-Afrika ‘n welwillende onkunde oor moedertaalreklame weens die gedwee aanvaarding dat almal in Suid-Afrika mos Engels verstaan.

“Verstaan is egter een ding. Waardéér is iets anders. Mense waardeer dit as hulle in hul hartstaal aangespreek word. Dit kan die kans op kommersiële sukses verhoog,” sê Du Plessis.

Gevra na die essensie van respek, sê Du Plessis dit is om mense – alles – in hul totaliteit en in hul konteks te sien en te waardeer sonder vooroordeel. Respek is iets wat ‘n mens onvoorwaardelik gee en niks terug verwag nie. “Maar gewoonlik kry jy dit as jy dit gee.”

Du Plessis meen redaksionele bydraes en reklame in Afrikaans maak ‘n stelling oor die waarde van die taal. “ ’n Mens skep in Afrikaans, dryf handel in Afrikaans en leef jou uit in Afrikaans. Dit gaan dus oor veel meer as bloot die taal ken, lees en verstaan.”

“Pendoring is ‘n belangrike vertoonvenster aan die wêreld daarbuite. Dit is waar skeppendes kom sê ‘Hier is ons! Kyk hoe merkwaardig is ons met skeppende werk oor alle platforms heen – in Afrikaans.’ Met eg Suid-Afrikaanse woorde, uitdrukkings, sinsnedes en idees praat ons met ‘n lojale mark wat die moeite wat jy doen om hul taal te praat, sal beloon met hul klandisie.”

Du Plessis se raad aan skeppendes in die bedryf is om oorspronklike gehalte-advertensies te skep wat met die hart praat van die lojale Afrikaanse mark.

Die sluitingsdatum vir vanjaar se toekennings is 15 Julie 2013. Besoek www.pendoring.co.za om in te skryf, en hou die media dop vir finaliste wat op 27 Augustus bekend gemaak sal word.



Tim du Plessis, hoof van Afrikaanse koerante by Media24, sê dat Pendoring ‘n belangrike vertoonvenster aan die wêreld is.