PENDORING-BEKRONINGSAAND EEN GROOT (REKLAME)FEES

  • ’n Opskop soos min met ’n fees van Afrikaanse en Suid-Afrikaanse reklame.
  • Witwarm vermaak deur Emo Adams, Joseph Clark, Lloyd Cele, Three Tons of Fun en ’n verrassing of twee...
  • ’n Vyfstermaal met kos vir lekkerbekke.
  • Geskenksakke wat oorloop van verrassings vir elke gas.
  • Die sjarmante en gewilde Dagbreek-aanbieders Elma Smit en Pierre Breytenbach as seremoniemeesters.
  • En die immergewilde “afterparty” by The Assembly – geborg deur MK – waar daar tot laatnag gekuier sal word.
Dís sommige van die hoogtepunte op die vol en opwindende program van die 19e Pendoring-bekroningsaand op 20 September 2013 by KIKS/CTICC (Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum), wat na verwagting weer vir ’n onvergeetlike aand van topvermaak gaan sorg.

Dié spoggeleentheid wat allerweë as ’n hoogtepunt op die reklamekalender beskou word, val vanjaar weer saam met Creative Week Cape Town, en na verwagting gaan skeppendes en verteenwoordigers van die reklame-, bemarkings- en mediabedryf weer eens in groot getalle op Kaapstad toesak om dié weeklange opwelling van skeppende werk by te woon.

“Elke jaar vereer die Pendoring-Reklametoekennings die beste en treffendste Afrikaanse en Eg Suid-Afrikaanse reklame in enige van ons elf amptelike landstale. Vanjaar is ons tema “Respek”, ’n gepaste huldeblyk aan agentskappe en maatskappye wat die lang en dikwels steil pad trotseer om uitnemende werk te skep, sê Pendoring se hoofbestuurder, Franette Klerck.

Behalwe dat die skeppendes van die skerpste Afrikaanse en Eg Suid-Afrikaanse reklame weer met vet tjeks, trofees en sertifikate gaan wegstap, gaan Ads24 se Afrikaanse T-hemp-kompetisie vir agentskappe en ontwerp-ateljees ook by die bekroningsgeleentheid bekend gemaak word – en die wenners sal met wonderlike pryse wegstap!

Soos gewoonlik, ontvang die algehele wenner van die Pendoring-prestigetoekenning ook ’n sak vol pryse wat die groot goue Doring-trofee, ’n kategorieprys van R6 000 en ’n oorsese studiereis van R50 000 insluit. Wenners van ’n silwer Pendoring kry R2 500 kontant en ’n silwer Pendoring-trofee.

Daarbenewens wen die adverteerder van die wen-inskrywing in die Afrikaanse radio-kategorie ook gratis handelslugtyd van Jacaranda FM ter waarde van R150 000 asook R75 000 van Ofm, mits die advertensie op die onderskeie stasies uitgesaai is.

Vanjaar is ook die tweede keer wat die Umpetha-toekenning aan die algehele wenner van die Eg Suid-Afrikaanse kategorieë oorhandig sal word, wat n kontantprys van R20 000 insluit.

Die algehele studentewenner ontvang nie net ’n kategorieprys van R6 000 nie, maar ook ’n kontantprys van R10 000 en ’n internskap by TBWA\ Hunt\Lascaris in Johannesburg, een van die land se voorste reklame-agentskappe.

Om alles te kroon, word die kliënt van die Prestigepryswenner met ’n yslike R2,2m se gratis reklameruimte/lugtyd beloon.

Pendoring maak dit vanjaar weer maklik vir gaste om die aand te kan bywoon, danksy hul lugdiens- en verblyfvennoot. Volledige besonderhede verskyn op die Pendoring-webwerf (www.pendoring.co.za) onder die opskrif ‘Galageleentheid’.

Kaartjies na die Pendoring-bekroningsaand is nou te koop by Corrie le Roux (corrie@vibrantmedia.co.za of 011 880 5202). Studente ontvang 25% afslag op kaartjies.

Keerdatum vir inskrywings is 22 Julie 2013 - www.pendoring.co.za


Joseph Clark


Emo Adams


Lloyd Cele

Topklas eg Suid-Afrikaanse vermaak gaan sorg dat gaste tydens die 19e Pendoring-Reklametoekennings by KIKS in Kaapstad nie sal kan stil sit nie. Joseph Clark, Emo Adams en Lloyd Cele is maar net ’n paar van die plaaslike kunstenaars wat op die verhoog sal verskyn.