Joe Public stap weer weg met sak vol Pendorings

Terug na argief
...maar hoogste Pendoring-eerbewyse gaan aan Draftfcb Johannesburg, Black River F.C.

Vat vyf, Joe Public! Met een goue en vyf silwer Pendorings, het dié reklame-agentskap sy prestasie van 2012 as Pendoring-voorloper gehandhaaf deur vanjaar weer met die meeste Pendorings weg te stap. Joe Public het vanjaar ook die meeste finaliste (14) opgelewer.

Die wenners is gisteraand voor ’n groot en waarderende gehoor tydens Pendoring se glansryke bekroningsaand in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum aangewys. En met witwarm vermaak deur kunstenaars soos Emo Adams, Joseph Clark, Lloyd Cele en Three Tons of Fun, was dié spoggeleentheid oudergewoonte weer eens ’n multikulturele jollifikasie soos min!

Wat goue Pendorings betref, het Draftfcb Johannesburg en Black River F.C. die septer geswaai met twee goues elk. Daarbenewens het Draftfcb Johannesburg ook met die Prestige-toekenning weggestap vir sy pittige Toyota- radioveldtog, Taai Oumas, Taai Tieners, Taai Meisies en Black River F.C. met die Umpetha-toekenning vir sy skerp Nando’s TV-veldtog, Athletes, Anthem, Izikhothane. Black River F. C. het ook ’n silwer Pendoring verower.

Die feit dat net agt goue en 26 silwer Pendorings vanjaar aan reklame-agentskappe in die professionele afdeling toegeken is, getuig van uiters streng beoordeling. Ook net sewe silwer toekennings in die student-afdeling toegeken is en geen algehele studentewenner aangewys is nie.

Ogilvy Johannesburg, TBWA\Hunt\Lascaris Johannesburg en Draftfcb Kaapstad het ook elk ’n goue Pendoring verower, terwyl Draftfcb Kaapstad met drie silwer Pendorings en Ogilvy Johannesburg met twee silwer Pendorings weggestap het.

Silwer Pendorings het ook gegaan Baie-Lingual Concepts, tbsp///beyond the line en The Jupiter Drawing Room Johannesburg (2 elk) terwyl FoxP2 Kaapstad, Studio Zoo, M&C Saatchi Abel Kaapstad, MetropolitanRepublic, The Jupiter Drawing Room Kaapstad, Etiket en Haas Advertising elk een silwer Pendoring ontvang het.

Die reklameskole wat silwer verower het, is AAA School of Advertising Kaapstad (3), Noordwes-Universiteit (2) en AAA School of Advertising Johannesburg en The Red and Yellow School of Logic and Magic, een elk.

Waar die beoordelaars vanjaar weer eens baie beïndruk was met die werk in afdeling Eg Suid-Afrikaans, asook met die kategorieë Oorspronklik Afrikaans en Radio in die afdeling Afrikaans, was die studente-inskrywings teleurstellend. Die algemene gevoel as dat benewens die feit dat heelwat van die idees nie nuut en vars was nie, is dit ook nie goed afgerond en deurgevoer nie.