PENDORING KEER TERUG NA GOUDSTAD

Terug na argief
Die glansryke bekroningsaand van die Pendoring Reklametoekennings vir voortreflike Afrikaanse en inheemse reklame vind vanjaar weer by Vodacom World in Midrand plaas, en wel op Vrydagaand, 24 Oktober. Die gala-aand se terugkeer na die Goudstad volg op twee suksesvolle jare in die Moederstad.

Inskrywings open op 12 Mei en die sperdatum is 21 Julie 2014. Volgens Franette Klerck, Pendoring-hoofbestuurder, mag alle veldtogte wat van 16 Julie 2013 tot 21 Julie 2014 verskyn het of uitgesaai is, ingeskryf word. Beoordeling vind op 21, 22 en 23 Augustus plaas. “Na verwagting gaan die toekennings, soos in vorige jare, groot belangstelling uitlok, veral vanweë die twee hooftoekennings, die Prestige- en Umpetha-toekennings.”

Umpetha beteken ‘kampioen’ in Zoeloe en die algehele wenner in die afdeling Eg Suid-Afrikaans word met hierdie gesogte toekenning bekroon. Verlede jaar het dit aan Black River FC gegaan vir sy Nando’s-veldtog.

Dié agentskap se uitvoerende skeppende hoof, Ahmed Tilly, sê die Umpetha-toekenning is besonders omdat dit spesifiek geskep is om skeppende oplossings vir ’n Suid-Afrikaanse gehoor te bekroon. “Die Pendoring-toekennings het die afgelope paar jaar ook in statuur gegroei en is nóg ’n belangrike barometer om kreatiwiteit te meet, veral in ’n Suid-Afrikaanse verband.”

Tilly sê die agentskap se bekroning met die Umpetha-toekenning was een van sy trotste oomblikke. “As ’n agentskap streef Black River FC om relevant te wees vir ’n Suid-Afrikaanse gehoor. Erkenning as die beste presteerder in dié spesifieke kategorie is iets waarop ons besonder trots is.”

Hy glo die agentskap was suksesvol omdat dit bestendig en gefokus is. “Ons het altyd eg Suid-Afrikaanse gewerk gelewer en streef altyd daarna om dit op ’n vars, dapper en onverwagse manier te doen. Die verowering van die Umpetha-toekenning is maar net een bewys dat hierdie fokus vrugte afgewerp het.”

Soos die vorige paar jaar, kry die wenners van die Prestige-toekenning onder meer ? oorsese studiereis van R50 000, en dié van die Umpetha-toekenning ’n kontantprys van R20 000. Goue en silwer wenners ontvang ook ’n kontantprys en die top-student ontvang ’n studiebeurs van R10 000.

Bruce Sturgeon, uitvoerende hoof van Caxton–gemeenskapskoerante, een van Pendoring se lojale borge, sê om uitnemendheid in die bedryf te bereik, is in die belang van alle deelnemers. “Ons belê dus jaarliks nie net ’n beduidende bedrag geld in ons interne voortreflikheidstoekennings nie, ons ondersteun ook soortgelyke bedryfsgeleenthede.

“Die maatskappy ondersteun Pendoring aangesien Afrikaans nie net die hooftaal in talle van sy plaaslike koerante is nie, maar ook die moedertaal van ’n groot aantal lesers. “Dit het dus sakesin vir ons om Pendoring te ondersteun aangesien die toekennings naam gemaak het as ’n belangrike instrument om Afrikaanse reklame te bevorder en te beloon,” sê Sturgeon.

“Ofskoon voortreflike Afrikaanse reklame Pendoring se hoofdoel bly, is verskeie kategorieë die afgelope jare bygevoeg wat die fokus verbreed het om ook ander inheemse tale, oftewel eg Suid-Afrikaanse reklame in te sluit, wat algar steun verdien.”

Klerck sê “die Pendoring Reklametoekennings dui op ’n dinamiese reklamebedryf wat die waarde van moedertaalreklame erken - of dit nou Afrikaans, Zoeloe, isiXhosa of enige ander inheemse taal is - en sal voortgaan om ? groter bewustheid daarvan te bevorder.”


Black River FC, wenner van die 2013 Umpetha-toekenning vir sy Nando’s-veldtog.