Pendoring-toekennings is sexy... en ons weet dit!

Terug na argief
“Die Pendoring-reklametoekennings bly aktueel en pas jaarliks by dié progressiewe bedryf aan. Dis sexy en niemand loop vroeg van dié opskop nie.”

Dít het Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV, verlede jaar gesê.
’n Jaar later het niks verander nie. Trouens, die Pendoring-toekennings is meer relevant as ooit. “Die ATKV glo dit vas, dus is ons vanjaar weer ’n platinumborg van dié toekennings,” beklemtoon hy.

Dié kultuurorganisasie is ’n lojale ondersteuner van die toekennings, en Gouws glo dit is uniek weens die erkenning en beloning van kreatiwiteit in ’n moedertaal. “Hier verwys ons grootliks na Afrikaans, want dit is presies die hoofdoel van die toekennings: om allereers kreatiwiteit in Afrikaans te beloon.”

Sukses in hierdie opsig het daartoe gelei dat ander kategorieë, soos die Eg Suid-Afrikaanse toekennings, bygegevoeg is, wat sedertdien in gewildheid toegeneem het.

“Kreatiwiteit in ’n persoon se moedertaal verseker voordele vir ’n handelsnaam wat geen ander taal kan bring nie, ongeag hoe goed die persoon dit verstaan of praat,” sê Gouws. Dit gaan nie net om woorde en sinne nie, maar om unieke nuanses en gesegdes in daardie taal, voeg hy by.

“Afrikaans is die ideale reklametaal juis vanweë sy seggenskrag en nuanses.
Neem byvoorbeeld die Klipdrift-advertensie “Met Eish, Ja”. Dit was veel meer as die gebruik van die taal, maar is ’n weerspieëling van ’n kultuur waarmee Afrikaanssprekendes dadelik kon identifiseer. Trouens, die gebruik van dié drie woorde was so suksesvol en gewild, dat dit by die breër Suid-Afrikaanse gemeenskap aanklank gevind het.”

Volgens die jongste sensussyfers is daar 6.8 miljoen Afrikaanssprekendes wat die volle diversiteit van die land verteenwoordig. “Dit is altyd ’n groot verrassing vir sommige Suid-Afrikaners wanneer hulle hoor dat net 40% van alle Afrikaanssprekendes blankes is en dat hulle nie die meerderheidsgroep is nie. Die persepsie bestaan dat Afrikaans ’n “blanke” taal is, maar in der waarheid verteenwoordig dit die land se bevolkingsgroepe in wisselende getalle,” verduidelik Gouws.

Dit is ook ’n taal wat Suid-Afrikaners goed verstaan, ondanks die feit dat dit nie hul huistaal is nie. “Afrikaans is ’n tweede taal vir baie mense. Twee maal meer matrieks neem Afrikaans as ’n bykomkende taal as enige ander taal.”

Ondanks hierdie feite, bly dit ’n groot stryd om te verseker dat Afrikaans in skeppende kringe op die voorgrond bly. “Weens die resessie het talle handelsname hul begrotings ingekort, en sommige internasionale handelsname skep hoegenaamd geen advertensies plaaslik nie. Hoewel ons groot begrip het vir dié probleme, bly dit ’n voldonge feit dat mense beter verstaan wanneer daar met hulle in hul eie taal gepraat word,” sê Gouws.

Op langelaas sal “local” altyd lekker wees en handelsname wat dit erken, die resultate bring wat hulle soek, want dit verseker lojale klante. “Op ’n tydstip waar handelsname nie net op verbruikerslojaliteit kan staatmaak nie, is die Afrikaanssprekende mark nog merkwaardig lojaal.”

Hy moedig handelsname en reklameagentskappe dus aan om skeppend te wees – in Afrikaans. Vanjaar se veldtog daag die bedryf uit om nuwe ikone te skep.

“Dít is die bedryf wat vir wonderlike ikone soos Castrol se Boet en Swaer, en Klipdrift se vriendelike Frikkie gesorg het; ons doen nou ’n beroep op hulle om met nuwe ikone vorendag te kom met dieselfde, selfs groter trefkrag, wat met ons in ons moedertaal praat,” sê Gouws.

Die volgehoue sukses van die Pendoring-reklametoekennings wat vanjaar sy19e bestaansjaar vier, weerspieël die behoefte van verbruikers om in hul moedertaal aangespreek te word. “Dit het te maklik geword om ’n advertensie in Engels te skep. Een van die redes van die Pendoring-toekennings is om agentskappe aan te moedig om die belangrikheid van moedertaalkommunikasie te besef. Pendoring sal voortgaan om hierdie handelsname en agentskappe te beloon,” sê Gouws.

Die Pendoring-toekennings vind vanjaar op 24 Oktober by Vodacom World in Midrand, Gauteng, plaas. Inskrywings is oop en sluit op 21 Julie 2014. Alle veldtogte wat van 15 Julie 2013 tot 21 Julie 2014 verskyn het of uitgesaai is, kan ingeskryf word.


Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV, vanjaar weer ’n platinumborg van dié toekennings