Beloon outentieke veldtogte wat sy teiken in ’n oorvol mark bereik, sê Ads24

Terug na argief
Bemarkingsboodskappe wat opreg tot ’n mark spreek het stamina en slaankrag in ’n oorvol mark, sê Ads24, ’n Platinum-borg van die Pendoring-Reklametoekennings.

“Om treffende reklame te skep wat byval vind by ’n spesifieke teikenmark is gewis ’n uitdaging,” sê Shane Jacobs, Sakebestuurder van Ads24 se Noordelike streke.

“ ’n Agentskap moet stry teen die oormaat van aandag-afleidende-stimuli wat die teikenmark regdeur die dag in die oë staar en terselftertyd waak teen die algemene gebruik waar ’n agentskap slegs gemeet word aan sy mees onlangse reklameveldtog. Hierdie uitdagings plaas volgehoue druk op agentskappe om aanhoudend nuwe en unieke veldtogte te skep.”

Dit is juis in hierdie kultuur van verganklike reklame dat Ads24 besluit het om aan te sluit as Platinum-borg van die Pendoring-Reklametoekennings.

“ ’n Toekenning met die prestige van die Pendorings is ’n duursame teken van kwaliteit. Dit help om die agentskap wat dit verdien het uit die trapmeul van vergelyking te lig, waar ander agentskappe slegs onthou en gemeet word aan hul laaste veldtogte. Dit gee die ontvanger van die toekenning ook meer ruimte om nuwe kreatiewe paaie te stap.”

Maar, aldus Jacobs is daar ook ’n ander rede waarop Ads24 die Pendoring-Reklametoekennings ondersteun. Die ondersteuning en erkenning van outentieke en kultureel-relevante reklame.

“Kliënte is al hoe meer op soek na outentieke handelsmerke. Die term ‘outentiek’ kan in hierdie geval gesien word as iets wat uitstaan en jou oog vang, maar ook iets wat spreek tot jou beeld van die wêreld. Sekere markontleders gaan verder en sê dat outentieke boodskappe lei tot ’n gevoel van vertroue in die handelsnaam, synde die koper glo dat die handelsnaam hom of haar verstaan en dus ook vir hul omgee.”

“Die Pendoring-span het hierdie markneigings raakgesien vóór die aantal kommunikasiekanale, wat vir ons aandag meeding, met rasse skrede uitgebrei het. Ons stem luidkeels saam met die Pendoring-Reklametoekennings se insig dat bemarkers wat met ’n teikenmark in hul eie taal praat ’n reklameboodskap dadelik meer outentiek en treffend maak.”

Ads24 verteenwoordig meer as 100 gedrukte en digitale platforms en hul veldtogte bereik daagliks nagenoeg 17.5 miljoen mense. Met só wye reikwydte het die Ads24-span ’n unieke insig in die waarde van eg-Suid-Afrikaanse reklame, soos die Afrikaanse reklame op hul verskeidenheid Afrikaanse platforms.

“Afrikaanse reklame praat met ’n gegoede teikenmark en bied die adverteerder groter trefkrag en ’n goeie wins op sy reklame-belegging,” aldus Jacobs. Vanjaar verhuis die Pendoring-Reklametoekennings se gala-geleentheid na Gauteng. Dit word by Vodacom World te Midrand op 24 Oktober 2014 gehou.