Pendoring-bekroningsaand gaan róck

Terug na argief
Top-reklameskeppers wat bekroon word vir uitmuntende werk, witwarm vermaak deur Karen Zoid, Jay en Nandi Mngoma, ’n vyfster-ete so uit die boeke en propvol geskenksakke vir elke gas, op die koop toe.

Dít en nóg meer is mense beskore wat vanjaar Pendoring se glansryke bekroningsaand op 24 Oktober by Vodacom World, Midrand bywoon.

Ná twee suksesvolle jare in Kaapstad, is die Pendoring-bekroningsgeleentheid vanjaar weer terug in Gauteng en beloof dit om selfs groter en treffender as tevore te wees.

Dié uithang-geleentheid, wat gekenmerk word deur top-vermaak, word wyd en syd geloof as ’n hoogtepunt op die reklame-kalender en sorg jaar na jaar vir ’n stampvol venue. En met Zoid, Jay en Nandi Mngoma vanjaar op die verhoog, kan vuurwerke verwag word.

Zoid het reeds 12 jaar gelede die Afrikaanse rock-genre herskep met haar eerste solo-album Poles Apart en hoewel haar kreatiwiteit nou selfs tot ? TV-program strek, bly haar eerste liefde die verhoog, kitaar in die hand.

Met soortgelyke energie het Jay nuwe lewe in Afrikaanse pop geblaas en sy tweede album, #DisHoeOnsRol, het kort na sy buiging goue status bereik. Hy sal ’n rits van sy nuwe en bekende treffers op die Pendoring-galageleentheid sing.

Nandi Mngoma en The Horizons sal as tempo-teenwig vir Zoid en Jay dien. As TV-persoonlikheid en kunstenaar, het Mngoma in 2012 haar debuut-opname Nandi bekendgestel. Onder die naam The Horizons, verweef die akoestiese kitaar-duo, Zweli Matsebula en Brandon Chawane, jazz, rock en Afrika ritmes in hul eie skeppings.

Die Pendoring-produksie gaan ook vanjaar die grense verskuif, sê Theofista Ellis, welbekende regisseur en stukrag agter die produksie. “In vanjaar se die produksie gaan met donker en lig gespeel word op ’n manier wat nog nooit van tevore gesien is nie. Ons maak gebruik van nuwe tegnologieë wat beloof om die gaste se asem weg te slaan,” voorspel sy.

En soos gewoonlik, gaan die seremoniemeesters verder glans aan die geleentheid verleen. Vanjaar is Martin Bester van Jacaranda 94.2 en sy kollega en kykNET-aanbieder Rozanne McKenzie agter die mikrofoon as aankondigers. Om hulle op hul sprankelendste beste te laat lyk, is die hulp ingeroep van ontwerper Diaan Daniels wie se uitrustings al by die Cannes-rolprentfees en Emmy-bekroningsgeleentheid gedra is.

Maar die aand behoort uiteraard aan die reklameskeppers wie se wenwerk in die onderskeie Pendoring-kategorieë bekroon en gevier word. Elke wenner van ’n goue Pendoring ontvang R6 000 en elke silwer Pendoring-wenner sit R2 500 in sy/haar sak. Die algehele wenner in die studente-kategorieë ontvang R10 000 en ’n internskap by TBWA\Hunt Lascaris.

Die algehele wenner in die eg Suid-Afrikaanse afdeling, ontvang die Umpetha-trofee en R20 000, terwyl die algehele wenner in die Afrikaanse afdeling met die Prestige-toekenning wegstap. Dit behels ’n oorsese studiereis van R50 000. Die kliënt wie se werk die Prestige-toekenning ontvang, word met gratis media van R2 miljoen beloon.

Kaartjies vir dié spoggeleentheid is reeds beskikbaar en meer besonderhede is beskikbaar by Corrie le Roux van Vibrant Media by corrie@vibrantmedia.co.za of op 011 880 5202.

En of die finaliste ’n toekenning tydens die gala-aand wen óf nie, daar is die gewilde after party na afloop van die geleentheid – vanjaar geborg deur die Afrikaanse klets-toep Toeter – wat as perfekte viering of troos sal dien.

Pendoring wil graag die volgende borge bedank:
Platinum: Ads24, ATKV, kykNET, Media24. Goud: Die Burger, Huisgenoot, Die Dagbreek Trust, Rapport, Toyota. Brons: Caxton-gemeenskapskoerante, Jacaranda FM, MyEdit, OFM en Sanlam. Vennote: Adlip, DEKAT, KWV, eVati, kulula.com, Leopard’s Leap Wines, Marklives.com, Newsclip, Sonovision, Toeter.

Enige media-navrae kan gerig word aan:
Leo Kok: 082 327 2763 / leo@dabiko.co.za


Karen Zoid


Jay


Nandi Mngoma