Afrikaans kook!

Terug na argief
Afrikaans het nie gaan lê nie. Dit is duidelik as ? mens luister na mnr. Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV-groep, se geesdriftige weerlegging van persepsies dat Afrikaans besig is om sy greep in Suid-Afrika te verloor. En die ATKV voel so positief oor die saak dat die organisasie weer as Platinumborg sy gewig agter die Pendoring-reklametoekennings ingooi.

“Dit lyk dalk of Afrikaans sedert 1994 amptelik opsygestoot word, maar mense moet vir geen oomblik dink dat Afrikaans besig is om te stagneer nie,” sê Gouws.

“Al word Afrikaans weens praktiese redes nie meer in die meeste raadsale gepraat nie, is Afrikaans nog lank nie besig om as handelstaal te verdwyn nie. Baie groot maatskappye (soos ABSA, Sasol en Nedbank) publiseer nog steeds hul finansiële resultate in Afrikaans. Daar is ook nog baie Afrikaanse sakemanne in hoë posisies wat ? groot rol speel en positief is teenoor Afrikaans. Baie maatskappye wat grotendeels Afrikaans was, soos Sanlam, het die wêreldmark betree en lyk nou na Engelse maatskappye. Die feit is egter dat Sanlam nog baie omgee vir Afrikaans en dit op verskeie gebiede ondersteun. Sanlam is byvoorbeeld die grootste borg van die Woordfees wat jaarliks op Stellenbosch gehou word en borg ook RSG se Afrikaanse dramakompetisie.

“Regslui vir Afrikaans sowel as Rekenmeesters vir Afrikaans skep nog die heeltyd nuwe regs- en rekenkundige terme en bied kursusse in Afrikaans aan. Ook die ATKV is heeltyd besig om nuwe terme te skep, so ook die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT). Afrikaans hou by met nuwe rekenaarterme en terme vir nuwe tegnologie, ens.

“Daar is heelwat Afrikaanse organisasies wat hulle beywer vir die voortbestaan van Afrikaans. Behalwe die ATKV is daar onder andere die Afrikaanse Taalraad (ATR), Solidariteit, Afriforum en Maroela Media. Hulle het nie die handdoek ingegooi nie. Die ATKV het al meer as 70 000 lede en het 312 takke waarvan drie in Soweto is. Die takke in Soweto bied Afrikaanse lesse aan kinders en volwassenes waarvoor mense betaal en dit is baie gewild.

“Ons projekte in die skole en universiteite bereik jaarliks 500 000 kinders en jongmense. En ons bereik daardeur ook nie-huistaal Afrikaanssprekers. As ons byvoorbeeld ? spelkompetisie aanbied, het ons ook ? kategorie vir kinders wat Afrikaans as addisionele taal neem. Die kinders geniet dit. Dis positief.

“Afrikaans het nog altyd daarin geslaag om platforms te skep om homself uit te druk. Dink maar aan die verskillende kunstefeeste soos die KKNK, Aardklop, die Woordfees, die ATKV-Oesfees, die Suidoosterfees.

“Dan is daar ook nog die nuutgestigte Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) wat eersdaags geloods word. Dit is ’n navorsingsinstituut en diensverskaffer vir Afrikaans in ’n digitale konteks. VivA se hoofdoel is om die gebruik en gehalte van Afrikaans, plaaslik en internasionaal, uit te bou deur die beskrywing en bestudering van Afrikaans in sy volle omvang. Die instituut is verder gemoeid met die ontwikkeling van omvattende digitale en ander hulpbronne, hulpmiddele en platforms vir gesproke en geskrewe Afrikaans en die lewering van praktiese Afrikaans taaldienste deur middel van tegnologie. Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, die ATKV, Noordwes-Universiteit en die Dagbreek Trust is die stigterslede van VivA. Die Nederlandse Taalportaal (onder bestuur van die Meertens Instituut) is ook ? geassosieerde lid. Prof. Gerhard van Huyssteen is aangestel as die eerste uitvoerende hoof van VivA.

“Daar word dus in die Afrikaanse geledere baie gedoen om Afrikaans te bevorder sodat dit nie in die vergetelheid moet verdwyn nie. Die vraag is egter of Afrikaanssprekendes gemobiliseer kan word om te help dat Afrikaans aanhou groei?

Dit is so dat Pendoring die afgelope jaar ? insinking in die gehalte en die getal Afrikaanse advertensies waargeneem het. Daarom het die Pendoring-direksie, saam met sy borge, besluit om opnuut aandag te vestig op die waarde van moedertaalreklame – en spesifiek Afrikaanse reklame. Ons moet adverteerders, reklame-agentskappe en die publiek aanmoedig om die waarde van Afrikaans as reklametaal te verstaan en te benut.

“Volgens verskeie peilings en sensusopnames het mense met Afrikaans as eerste taal sowel as addisionele taal steeds ? wesentlike koopkrag in die land. Sakelui behoort nie dié feit te ignoreer nie maar as die Afrikaanse verbruikers nie omgee nie, gaan die situasie verder versleg.

“As Afrikaanse mense aanhou om hul kinders na Afrikaanse skole en universiteite te stuur, Afrikaanse toneel, flieks, skrywers te ondersteun en vriendelik en hoflik aandring daarop om deur sakeondernemings in Afrikaans bedien te word sal Afrikaans nie sy status as hoë funksietaal verloor nie. Inteendeel, Afrikaans het die potensiaal om nog die volgende 50 jaar te bly groei. So, moenie moed opgee nie, neem deel aan die proses,” sê Gouws.