Toyota se reikwydte kring uit

Terug na argief

“Suid-Afrika is ’n unieke land, gekenmerk deur die diversiteit van sy landskap, maar des te meer, van sy mense. Hierdie diversiteit verskaf ’n platform waarop ’n magdom kulture en tale paaie kruis en meng, om sodoende ’n ware ‘reënboognasie’, waarna daar dikwels met deernis verwys word, in die hand te werk.”

Aldus mnr. Calvyn Hamman, senior vise-president: Verkope en Bemarking by Toyota.

“Toyota het ’n lang geskiedenis in Suid-Afrika, en die maatskappy beskou sy klante en kliënte as sakevennote in die ware sin van die woord.

“Kliëntgerigtheid was nog altyd ’n Toyota-hoeksteen, en die maatskappy is trots op die feit dat hy in voeling is met sy kliëntebasis en op hul steun en lojaliteit kan staatmaak,” voeg hy by.

“Een van Toyota se uitstaande kenmerke is juis sy uiteenlopende kliëntebasis – wat gepas is vir die groot verskeidenheid mense wat ons pragtige land se nasie verteenwoordig. Wanneer Toyota se omvattende produkreeks op die keper beskou word, val dit op dat Toyota ’n wye reeks voertuie bied wat aan bykans almal se behoeftes voldoen. Te meer, baie van Toyota se voertuie word spesifiek vervaardig om aan die plaaslike mark se vereistes en gebruike te voldoen, wat verder getuig van die maatskappy se ‘omarming’ van Suid-Afrikaners se diversiteit.

“Nog ’n unieke eienskap van Suid-Afrika is die erkenning van 11 amptelike tale. Dit, op sigself, is besonder interessant en kan, uit ’n kommunikasie-oogpunt, uitdagend wees! Maar Toyota Suid-Afrika beskou dit eerder as ’n geleentheid om met sy diverse kliëntebasis in ’n verskeidenheid tale te kommunikeer.

“Toyota glo reklame in inheemse tale maak ’n bydrae tot handelsnaamlojaliteit en kliëntbetrokkenheid. Dit is waarom ons deurgaans die waarde erken van reklame in inheemse tale en die koopkrag van die ontluikende mark, deur ons volgehoue borgskap van die Pendoring Reklametoekennings wat vanjaar veral op inheemse tale fokus,” sê Hamman.

“’n Sprekende voorbeeld hiervan is die suksesvolle Toyota Avanza-radioadvertensies en mini-dramas wat op vyf verskillende radiostasies uitgesaai word, met inbegrip van hoofstroomstasies soos Lesedi en Ukhozi FM. Met gesamentlik meer as 18 miljoen luisteraars wat vyf tale praat, verteenwoordig dit ’n aansienlike gehoor.

“Dit is ook ’n feit dat inheemse groepe ’n beduidende persentasie van die ontluikende mark verteenwoordig en dit is presies dié klante met wie ons wil praat.

“Toyota erken en waardeer die ondersteuning van ons inheemse-taalklante, en ons glo deur met hulle in hul moedertaal te praat, kweek ons nie net respek nie, maar dra ons by tot die bevordering van ’n langtermyn-verhouding.

“Toyota Suid-Afrika loof die Pendoring Reklametoekennings dat dit die erkenning en platform bied om inheemse-taalreklame in Suid-Afrika te vereer, en sal voortgaan om inheemse taalreklame in die Suid-Afrikaanse reklamelandskap te ondersteun,” sê Hamman.


Calvyn Hamman, senior vise-president: Verkope en Bemarking by Toyota