Borge, vennote bankvas agter Pendoring

Terug na argief

Met sy mondigwording vanjaar het die Pendoring Reklametoekennings meer as genoeg rede om die vreugdevure aan te steek en die vlae te laat wapper!

Nie net het Pendoring vanjaar die grense verskuif deur sy deure oop te gooi vir inskrywings in alle inheemse Afrikatale om op gelyke voet mee te ding nie; in sy 21ste jaar staan ’n stewige aantal borge en vennote bankvas agter Pendoring – maatskappye en organisasies wat besef dat moedertaalreklame goeie sakesin het en die beste manier is om met ’n bepaalde teikenmark te kommunikeer.

Vyf gerekende Suid-Afrikaanse maatskappye en organisasies – ATKV, Dagbreek Trust, kykNET, Media24 en Toyota – bring al ’n hele aantal jare hul kant as platinumborge. Daarbenewens sorg Die Burger as ’n goue borg, Rapport, Ads24 en Huisgenoot (silwerborge), en Caxton-gemeenskapskoerante, OFM en Kuier (bronsborge) ook dat Pendoring se wiele geolie bly. En nie minder nie as 10 vennote het vanjaar hul gewig agter Pendoring ingegooi: Beeld, Clover, eVATI-mineraalwater, Leopard’s Leap Wines, MarkLives.com, Maroela Media, Newsclip, Richelieu, Vodacom World en Bizcommunity.com as aanlyn-vennoot.

"Ná 21 suksesvolle jare is die Pendoring-projek se gesaghebbendheid en trefkrag nie meer beperk tot die Afrikaanse mark nie; dit het vanjaar ook taal- en kultuurgrense oorgesteek om die kaleidoskoop van reklame in alle moedertale (behalwe Engels) te bevorder, te erken en te vier. Dit beteken dat die Prestige- én Umpetha-toekennings – vir die algehele wenner van sowel die beste Afrikaanse werk as die beste inskrywing in een van die ander nege inheemse tale – vanjaar elk R100 000 (met inbegrip van 'n oorsese studiereis) behels. Insgelyks kry die algehele studentewenner vir die beste Afrikaanse én die beste inheemse-taalinskrywing ook elk ’n kontantprys van R10 000,” sê Franette Klerck, Pendoring-hoofbestuurder.

Mnr. Nick Efstathiou, hoofbestuurder van OFM, ’n bronsborg wat al ’n lang pad saam met Pendoring loop, sê dié radiostasie is trots om deel van dié toonaangewende reklamekompetisie te wees. “Die gedrukte, uitsaai- en digitale media in Suid-Afrika is sekerlik dié belangrikste platforms vir die tentoonstelling van kreatiwiteit en innoverende denke. Adverteerders moet al harder werk om bo hul mededingers uit te staan. Dit kan net gedoen word as ’n skeppende span jou produk of diens verstaan en dit op ’n onvergeetlike manier aan die publiek oordra. OFM is trots om die meesters van nuwe en vars idees vir hul harde werk te beloon.”

Beeld, Clover en Richelieu wat vanjaar hul buiging as Pendoring-vennote maak, is ook baie in hul skik met hul Pendoring-verbintenis.

Dr. Chris Lerm, wat einde Junie vanjaar uitgetree het as hoof van handelsmerke en bemarking by Clover, sê die maatskappy is trots om reeds 118 jaar lank puik gehalteprodukte aan alle gemeenskappe in Suid-Afrika te voorsien.

 “As eg Suid-Afrikaanse maatskappy, is Clover ook trots om een van die borge te wees vir die Pendoring-toekennings wat vanjaar die eerste keer oop is vir reklame in alle inheemse tale van ons reënboognasie, ” sê hy.

Richelieu is ewe trots om vanjaar in die Pendoring-span te speel. “Ons dra graag by om die kundigheid en onverskrokke vakmanskap van ons inheemse tale in die reklamebedryf se bestes te vier. Sukses kom nie oornag nie, dit weet ons alte goed. Net soos ons slagspreuk lui: Ryk, Bevredigend, Richelieu, glo ons ryke beloning wink vir dié wat woeker om hulself uit eie reg te bewys, en des te meer ook hul genote se erkenning te verdien,” sê mnr. Jeremy Thompson, bemarkingsbestuurder.

Vodacom World is ewe in sy noppies dat die “diamant” in sy kroon, Vodacom Dome, vanjaar weer die venue is vir Pendoring se glansryke bekroningaand, sê me. Penny Gilchrist, bemarkingsbestuurder van Vodacom World.

“Vodacom World is nou al jarelank Pendoring se vennoot vir hierdie spesiale geleentheid. Uiteraard sal ons weer eens alles in ons vermoë doen om die geleentheid so heuglik moontlik te maak, nie net ten opsigte van 'n ongeëwenaarde teater-ervaring nie, maar ook wat ’n genoeglike maaltyd en  vyfsterdiens betref.”

  • Die glansryke bekroningsaand vind Vrydag, 28 Oktober 2016 by Vodacom World, Midrand plaas. Kaartjies is nou beskikbaar – vir meer inligting, besoek www.pendoring.co.za (sien galageleentheid).

Sluit aan by die Pendoring Facebook-groep of volg @Pendoring_ op Twitter en gebruik die hutsteken #Pendoring.