Groot oes Pendoring-inskrywings oortref alle verwagtinge

Terug na argief

Nes Suid-Afrika se sportsterre by die Olimpiese Spele in Rio wou uithaal en wys om met 'n goue, silwer- of bronsmedalje huis toe kom, reik die reklameskeppers van nie minder nie as 444 inskrywings vanjaar na 'n gesogte goue of silwer-Pendoring-trofee. Dit is net die derde keer in Pendoring se 21-jarige bestaan dat ver oor die 400 inskrywings ontvang is.

Veral verblydend is die aantal inskrywings in inheemse Afrika-tale, met Zoeloe-inskrywings wat die septer swaai, gevolg deur Xhosa- en Sotho-inskrywings.

Dit was juis om die skepping en bekroning van reklame in inheemse Afrika-tale aan te moedig dat Pendoring besluit het om vanjaar sy deure vir al dié tale oop te gooi om op gelyke voet mee te ding.

Om alles te kroon, het die Afrikaanse inskrywings 'n rekordjaar beleef. Die groot aantal studente-inskrywings – wat amper verdubbel het – het ook verras. In die agentskapsafdeling het kategorieë Vernuf en Radio-kommunikasie vir die meeste inskrywings gesorg, en in die studente-afdeling die kategorieë Gedrukte Kommunikasie en Kommunikasie-ontwerp.

Franette Klerck, Pendoring-hoofbestuurder, is verheug oor die groot aantal inskrywings. “Dit het alle verwagtinge oortref! Ek glo die oopstel van die toekennings vir al die inheemse tale om op gelyke grondslag mee te ding, het beslis ’n rol gespeel.  Bedryfspelers het baie positief op dié stap gereageer want hulle verstaan die belangrikheid van moedertaalreklame om 'n bemarkingsboodskap by 'n bepaalde teikenmark tuis te bring. Die reuse-verbruikersmark wat 'n ander taal as Engels as huistaal praat, sal bemarkers hopelik aanspoor om voortaan sterker op al dié tale in alle bemarkingskommunikasie te fokus.

“Pendoring se gesogte goue en silwer-trofeë, maar veral sy hoogste eerbewyse – die Prestige- en Umpetha-toekenning, wat vanjaar albei 'n oorsese studiereis van R100 000 behels en die algehele wenners die geleentheid gee om oorsee te gaan leer – is uiteraard ook 'n groot motivering vir skeppendes om in te skryf,” beklemtoon sy.

Esmaré Weideman, uitvoerende hoof van Media24, een van Pendoring se platinumborge, is ook opgewonde hieroor. ‘’Die groot aantal inskrywings is ’n bewys dat Afrikaanse reklame wikkel ten spyte van die stram ekonomie en die verskuiwing van verbruikers se mediagewoontes. Media-eienaars weet hul markte reageer goed op die taal van hul harte! Dis verblydend dat meer adverteerders dit ook so sien.’’

Molefi Thulo, skeppende hoof van Ogilvy Johannesburg, wat vanjaar hoof is van die beoordelaarspaneel, sê: “Die versoek om hoof van die jurie vir Pendoring 2016 te wees, is 'n ongelooflike eer; nie net omdat Pendoring vasbeslote is om eg Suid-Afrikaanse kreatiwiteit te bevorder nie, maar ook omdat 'n besondere groot oes inskrywings vanjaar ontvang is – op 444 is dit die meeste inskrywings nóg sedert 2012.

“Die boodskap is dus duidelik: daar is 'n liefde en blink toekoms vir ons inheemse tale. Wanneer dit kom by die beoordeling van die inskrywings, sal ek op die uitkyk wees na innoverende, inspirerende werk wat werklik die taal verteenwoordig waarin dit geskep is en ook aan die allerhoogste standaarde voldoen. Ek glo die gerekende beoordelaarspaneel sal Pendoring saam met my loof dat die toekennings inheemse werk 'n verhoog bied om op te skitter.”

Richardt Strydom, inhoudshoof by Breinstorm Brand Architects, voormalige dosent in grafiese kuns aan Noordwes-Universiteit en spesialisbeoordelaar in die studente-afdeling, sê: “Dit is verblydend om te sien dat studente in groot getalle die geleentheid en uitdaging van veeltaligheid so gretig aangryp. Die toekoms van Suid-Afrikaanse reklame lê myns insiens in sy diversiteit en unieke spesialisgehore. Dit is dan ook lekker om te weet dat ons jong skeppendes ons eg Suid-Afrikaanse stories en brand-ervarings in ryke veeltaligheid en eiesoortige beeldmateriaal kan uitdruk. Ek sien baie uit daarna om vanjaar se inskrywings onder oë te kry.”

  • Die beoordeling vind van 7 tot 9 September 2016 by Mediapark in Aucklandpark plaas. Die finaliste word op Vrydag, 16 September 2016 aangekondig en die wenners op 28 Oktober 2016 by die glansryke gala-aand by Vodacom World in Midrand.

Sluit aan by die Pendoring Facebook-groep of volg @Pendoring_ op Twitter en gebruik die hutsteken #Pendoring.


Molefi Thulo, skeppende hoof van Ogilvy Johannesburg


Richardt Strydom, inhoudshoof by Breinstorm Brand Architects