Media24 loop voor in digitale eeu

Terug na argief

In die digitale eeu waarin ons ons bevind, is Media24 ’n voorloper. Dis ’n kwessie van fyn ingestel wees op gebruikersgewoontes en dit het gewys daar is ’n onomkeerbare migrasie na digitale platforms. So sê Esmaré Weideman, uitvoerende hoof van Media24, een van die Pendoring Reklametoekennings se getroue ondersteuners as platinumborg.

Dis veral mobiele digitale gehore waarop Media24 hom toespits. “Ons het in die laaste paar jaar besef apps met gefokusde inhoud is ’n groot deel van ons toekoms. Dis ’n bekostigbare en toeganklike vorm van media, ten spyte van die feit dat bandwydte in Suid-Afrika steeds ’n kwessie is. Almal het ’n foon en omtrent almal is effens verslaaf aan sosiale media. Die digitale sukses van Daily Sun se Facebook-blad is ’n bewys daarvan – 1,2 miljoen volgers neem aktief deel aan die interaksie. Ons sokkertydskrif Kick Off se aanlyngehoor is ook al jare lank heelwat sterker as sy drukgehoor,” sê Weideman.

Media24 het onlangs ook sy betaalnuusplatform, Netwerk24, herbekendgestel om meer gebruiksvriendelik te wees asook ’n nuwe gratis Afrikaanse nuus-app, Netnuus, bekend gestel wat al digby 76 000 aktiewe gebruikers het.

“Die meeste strukture en strategieë is nou gevestig. Vorentoe lê die klem op implementasie, leer en verbeter,” voeg sy by.

“Wat belangrik is, is dat digitale formate en inhoud relevant en bruikbaar moet wees – asook eenvoudig. Digitale platforms bied die geleentheid om gefokusde gehore vir ons adverteerders te bied wat tegelykertyd 100% meetbaar is. Die tyd is verby waar ons adverteerders hul inhoud net op ’n digitale platform gooi – dis ’n berekende gesamentlike strategie wat sukses bring. Die assosiasie van produkte met geloofwaardige media-handelsmerke is belangriker as ooit.

 “Ons groot Afrikaanse tydskrifhandelsmerke soos Huisgenoot en SARIE se digitale mark (wat ook sosiale media insluit) is ’n prioriteit, en die vars inhoudfokus beteken reeds gesonde gehore. Een van die prioriteite is om saam met ons adverteerders te werk om die markte vir hulle ook op nuwe en interessanter maniere oop te breek. Hier is ons fokus veral op inhoudsbemarking.

“Met die opwindende inhoud en die groot gehore wat ons handelsmerke nou aanlyn lok, kan ons reeds sien dat adverteerders saam met ons die pad gaan stap. Sukses is meer waarskynlik as daar ’n strategiese vennootskap ontstaan tussen die media-eienaar en adverteerder se projekte en doelwitte. Ons kan reeds sien met ’n jaar-na-jaar opwaartse groeikurwe dat ons strategie werk.”

Volgens Weideman het Media24 se “digitaal-eerste”-mantra ’n groot impak op die diversifikasie van hul markte gehad. “Ons dien deesdae meer Suid-Afrikaners as ooit tevore – dis nou op alle platforms.

“Ons lojale Afrikaanse lesers bly ’n prioriteit. Met die omvang van inligting waarmee verbruikers daagliks omgaan, bly moedertaal een van die beste maniere om by jou mark uit te kom. Die boodskap is doodeenvoudig duideliker. As bemarkers ook Afrikaans in sy volle omvang inspan en nie bloot uit Engels vertaal nie, is die boodskap gewoonlik lewenskragtiger. Dink net hoeveel Afrikaanse advertensies het deel geword van die gebruikstaal soos “met eish”, “nie te ver nie”, “beter en beter” ensovoorts.

“Ons is ewe passievol oor die ander inheemse tale omdat dit ook die tale van verskeie van ons markte is. Daarom lê Pendoring ons na aan die hart. Pendoring ondersteun nie net die skep van moedertaalreklame in al ons inheemse tale nie maar gee ook erkenning aan uitmuntende kreatiwiteit, iets waarop ons besigheid gebou is.”

  • Die glansryke bekroningsaand vind Vrydag, 28 Oktober 2016 by Vodacom World, Midrand plaas. Kaartjies is nou beskikbaar – vir meer inligting, besoek www.pendoring.co.za (sien galageleentheid).

Sluit aan by die Pendoring Facebook-groep of volg @Pendoring_ op Twitter en gebruik die hutsteken #Pendoring.


Esmaré Weideman, uitvoerende hoof van Media24