2016 Pendoring-bekroningsaand vanjaar 'n spesiale viering

Vanjaar is Pendoring se bekroningsaand op Vrydag, 28 Oktober by Vodacom World, Midrand, 'n dubbele viering: nie net gaan die beste van Suid-Afrikaanse inheemse reklame op gelyke voet met silwer, goud en die Groot Dorings – die Prestige- en Umpetha-toekennings – bekroon word nie, maar Pendoring se mondigwording gaan ook met swier gevier word, soos dit 'n 21-jarige op dié mylpaalverjaardag betaam.

“Ons is baie trots op die feit dat Pendoring in sy 21e bestaansjaar weer eens die grense verskuif het deur alle reklame in inheemse tale oor een kam te skeer, en ons gaan dit met oorgawe op die gala-geleentheid vier. En hopelik gaan die behoefte aan en die trefkrag van moedertaalreklame bemarkers oortuig dat dit die beste manier is om verbruikers se harte te raak en hul aan te moedig om hul beursies oop te maak,” sê Franette Klerck, Pendoring-hoofbestuurder.

Geen moeite is vanjaar ontsien om die heuglikste bekroningsaand in Pendoring se geskiedenis aan te bied nie: van die oorhandiging van die trofeë aan die land se top-reklameskeppers tot die vermaak, seremoniemeesters, vyfster-ete, geborgde drank, geskenke, en laataand-makietie ná die verrigtinge is met die grootste sorg beplan.

Pendoring se borge gaan vanjaar ook hul kant dubbel en dwars bring om die bekroningsgeleentheid en verjaardagviering 'n heuglike geleentheid te maak.

Dit is ’n Pendoring-tradisie dat elke tafel by die seremonie 'n bottel brandewyn kry. Vanjaar word die gaste so ’n tikkie ekstra bederf met Richelieu se bekroonde 10-jaar-oue premiumbrandewyn. Die twee algehele wenners gaan ook elk wegstap met ’n bottel Richelieu XO Cognac wat pas aangewys is as die beste ter wêreld. “Ons glo dat met ’n goeie skoot aspirasie, ’n vars uitkyk op die wêreld – en ook so 'n bietjie ‘Franse inspirasie’ daarby – mens jouself waarlik kan onderskei. Ons sien daarna uit om ’n glasie te klink op al die wenners en om in ons beste Afri-Frans te sê: Geluk! Félicitations!” sê mnr. Jeremy Thompson, bemarkingsbestuurder.  

Die ATKV, 'n platinum-Pendoringborg, sorg vanjaar vir die gebruiklike geskenksakke, Leopard’s Leap vir rooi- en witwyn op elke tafel, en eVati-mineraalwater vir genoeg mineraalwater om die kele nat te hou.

Vodacom World se “diamant” in sy kroon – Vodacom Dome – is ook oorgehaal om vanjaar weer gasheer te wees vir Pendoring se glansryke bekroningaand, sê me. Penny Gilchrist, bemarkingsbestuurder van Vodacom World.

“Vodacom World is nou al jarelank Pendoring se vennoot vir hierdie spesiale geleentheid. Uiteraard sal ons weer eens alles in ons vermoë doen om die geleentheid so heuglik moontlik te maak, nie net ten opsigte van 'n ongeëwenaarde teater-ervaring nie, maar ook wat ’n genoeglike maaltyd en vyfsterdiens betref.”

Benewens spys en drank uit die boonste rakke, gaan top-kunstenaars soos Elvis Blue, Code Red Drum Corps én 'n verrassingskunstenaar (uit die reklamebedryf), vir vermaak sorg wat die gaste se tone behoorlik gaan laat krul van die lekkerkry.

Met meer as 350 000 albumverkope, nege Top Tien-radiosnitte en meer as 700 optredes op sy kerfstok, word Elvis Blue beskou as een van die land se suksesvolste kunstenaars. Hy het in 2010 geseëvier as M-Net se SA Idol en het onbaatsugtig die helfte van sy wengeld met die naaswenner, Lloyd Cele, gedeel.

Elvis se eerste album ná sy Idols-prestasie, geniet vandag platinumstatus, met meer as 50 000 albumverkope, asook ’n 2012 SAMA vir die Beste Volwasse Kontemporêre Album. Tot op hede, geniet hy toenemend aanhang onder gehore sowel as resensente op grond van sy talent as uitvoerende kunstenaar en liedjieskrywer.

Die Code Red Drum Corps, wat in 2007 deur voormalige tromslaners van Parktown Boys’ High School in die lewe geroep is, sorg gereeld vir 'n skouspel met hul presisie- en truuk-tromslanery, asook marsjeerpassies terwyl hulle terselfdertyd tradisionele Afrika- en eietydse ritmes stylvol vermeng.

Die groep het nie net vier jaar agtereenvolgens as wenner van die tromslaankompetisie uit die stryd getree nie, maar ook twee maal op die plaaslike TV-program 30 Seconds to Fame, geseëvier.

As die aand se seremoniemeesters, behoort Schalk Bezuidenhout en Rozanne McKenzie ook 'n wenkombinasie te wees.

Schalk, wat in Kempton Park gebore is, se familie en vriende het toegekyk hoe hy uit sy konserwatiewe Afrikaanse kokon kruip en in ’n pragtige “drama queen”-skoenlapper, met ’n snor en wilde Afro op die koop toe, ontwikkel het. Sy ouers het besef dat hy drama sou gaan studeer en het die pyn probeer verdoof deur hom na die Universiteit van Kaapstad te stuur vir sy studies.

Terwyl hy in Kaapstad studeer het, het hy algaande begin besef dat die lewe om meer wentel as net boerewors en rugby, en in April 2011 het hy as skerpsketskomediant begin optree, met groot lof tot gevolg. Hy was ook ’n gewilde kunstenaar in voorprogramme van Trevor Noah-vertonings. Schalk geniet dit ook om toneel te speel en het in ’n hele aantal TV-advertensies opgetree. Hy is bekend vir sy retro-uitrustings waarvan die meeste tweedehands is. Buiten komedie, sy meisie, sy truie en sy ouers, is hy mal oor sy snor, aldus Afrikaans.com.

As aktrise, sanger, danser en TV-persoonlikheid – veral as Kwêla- en Dagbreek-aanbieder op kykNET – is die sprankelende Rozanne McKenzie ’n bekende en gewilde persoonlikheid in baie Suid-Afrikaanse huishoudings.

Dié gebore en getoë Kapenaar het nog altyd ’n passie vir die uitvoerende kunste gehad en haar honneursgraad in drama in 2003 aan die Universiteit van Kaapstad verwerf. Sedertdien skitter sy behoorlik in verskeie TV-reekse, soos Madam & Eve, Interrogation Room, Going Up Again, Noah's Ark en Erfsondes en was te sien in die rolprente Fugue en Freedom Day.

Rozanne is ook ’n opgeleide danser en het in verskeie verhoogproduksies soos Grease, King Lear, Miss Rock, The Great Gatsby, More Rooms en Babe: The Sheep Pig opgetree.

Om seker te maak dat jy nie vanjaar se Pendoring-bekroningskouspel misloop nie, bespreek nóú jou plek by Corrie le Roux (corrie@vibrantmedia.co.za of 011 880 5202). Kaartjies kos R900 per persoon (sluit ’n verwelkomingsdrankie, driegangmaaltyd, wyn, mineraalwater, vermaak, geskenke en ’n opskop ná die tyd in). Studente ontvang 25%-afslag op kaartjies.