ATKV brugbouer by uitnemendheid

Vanjaar weer ’n platinum Pendoringborg

“Dit is die ATKV se uitgangspunt om mense te help om mekaar beter te verstaan, brûe tussen kultuurgroepe te bou en te konsentreer op dié dinge waaroor ons ooreenstem – waarvan daar eintlik ontsettend baie is.  Ons was nogal suksesvol daarmee en vandag is die ATKV waarskynlik een van die inklusiefste organisasies in sy soort in die land.” 

So sê Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV, wat vanjaar weer sy plek volstaan as ’n platinumborg. 

Veeltaligheid

Die ATKV glo ook aan veeltaligheid, beklemtoon Gouws.  “Ons glo ons kan nie vir Afrikaans opeis wat jy nie ook vir ander tale kan opeis nie.  Ons houding is dat ons sê Afrikaanssprekendes is gawe mense en Afrikaans het groot waarde, net soos wat die ander tale ook ’n waarde het.  Ons wil ook die potensiaal van ander tale, wat hulle uit bemarking en advertensies kan kry, beklemtoon en ten toon stel.” 

Stories

Stories is ’n woord wat die ATKV nogal baie gebruik, sê Gouws.  “Ons luister fyn na ander mense se stories sodat ons hulle kan verstaan: waar hulle vandaan kom, hul seer en hul lekker.  Ja, jy vertel ook jou eie stories, maar in die eerste instansie, luister jy na ander mense s’n.  Die probleem is dat daar ’n hele klomp mense is wat meer praat as wat hulle luister, maar daar is genoeg mense wat ook luister na wat jy sê.  Alles wat ons doen, gaan eintlik oor stories.  Dit is hoe jy brûe bou, nasie bou, versoening bewerkstellig,” beklemtoon Gouws.

Só het die Pendoring-reklametoekennings die afgelope jaar ook uitstekend gevaar om brûe te bou, voeg hy by.  “Pendoring het hom geposisioneer as ’n organisasie wat sê, ‘kom ons sit saam skouer aan die wiel, trek die wa deur die drif en bevorder dít wat vir ons belangrik is: moedertaalreklame’.”

Bemarking

Die ATKV is allesbehalwe ’n vegter vir Afrikaans; die organisasie bemark Afrikaans, sê Gouws voorts.

“Ons is nie veglustig nie, ons gaan nie hof toe nie. Wanneer jy mense wat anti-Afrikaans of nie Afrikaans is nie, kan oortuig van die waarde van Afrikaans en ander moedertale, is dit net soveel lekkerder.  Dít is hoe ons Afrikaans benader, en ek dink daar is nog oorgenoeg geleenthede in die huidige landsituasie om Afrikaans te kan bemark.  Ons hoef regtig nie in sak en as te sit nie. Ek wens die ATKV kan twee keer groter wees; dat daar nog twee of drie organisasies is wat dié tipe ding kan doen want daar is regtig potensiaal.” 

Hoogtepunte

Wanneer hy einde Mei vanjaar, ná agt jaar as besturende direkteur van die ATKV uittree, kan hy terugkyk op ’n hele paar hoogtepunte.

“Een van die groot hoogtepunte is dat die ATKV ’n wesenlike bydrae gemaak het tot nasiebou en versoening. Samewerking en medemenslikheid is belangriker as ooit tevore, daarom is dit integraal deel van die ATKV se missie en strategie om elke taal- en kultuurgroep deur verskeie projekte en inisiatiewe tot sy reg te laat kom en samewerking te bevorder.

 

“Feit is dat Afrikaans nie net wit is nie, maar al die kleure van die reënboog. Afrikaans is eintlik ’n lappieskombers; ’n huis met verskillende kamers.  Wat dit betref, is die ATKV op ’n ander vlak as ’n paar jaar gelede,” volgens Gouws.

“Nog ’n hoogtepunt is dat ons aan die kultuurkant ons ons fokus baie duidelik uitgespel het sodat almal presies weet waarom dit gaan.  Ons het ’n impakinstrument ontwerp wat ons help om te bepaal of ’n projek die moeite werd is of nie.  Dit is nie soos ’n vakansieoord wat aan winsgewendheid gemeet word nie.  Kultuurprojekte kos geld.  As dit nie impak het nie, doen ons dit nie of ons pas die projek aan.” 

In ? omgewing waar uitgewers in die algemeen swaar trek, het die ATKV se LAPA uitgewers die afgelope klompie jaar ook uitstekend gevaar en lewer dié maatskappy gereeld 40-60 boeke op die Nielsen-toplys op – ? prestasie waarop Gouws baie trots is.  “Ons het ? hele paar goeie skrywers soos Irma Joubert, wie se boeke flink verkoop, asook die twee vroue van Bonteheuwel, Koelsoem Kamalie en Florence 'Flori' Schrikker, wie se debuut-kookboek ? voltreffer was. Hulle tweede boek, Soettand, is by die onlangse Woordfees op Stellenbosch te midde van groot belangstelling bekendgestel. 

Gouws is vol vertroue dat die ATKV vorentoe van krag tot krag sal gaan en nie net sal voortgaan om ? leidende rol sal speel met verdienstelike kultuurprojekte nie, maar ook om medemenslikheid, veeltaligheid en versoening in die land te bewerkstellig.

  • Inskrywings open op 8 Mei 2017. Sluitingsdatum: 1 Augustus 2017.