Reklamedrome word bewaarheid...as jy een van Pendoring se Groot Dorings wen

Inskrywings open vandag

 

Oor ’n paar weke is Graeme McCree, wenner van Pendoring se Prestige-toekenning in 2016 en skeppende hoof van King James, op pad na die Cannes-reklamefees, en later vanjaar wil Melusi Mhlungu, Ogilvy-kopieskrywer en medewenner van Pendoring se Umpetha-toekenning in 2016, sy deel van die prysgeld in die VSA gaan benut. Insgelyks, stel Bonginkosi Luvuno, senior kopieskrywer by The Odd Number, mede-Umpetha-wenner in 2016, ook sy visier op ’n unieke oorsese leerondervinding.

Te meer: as tweemalige wenner van Pendoring se Prestige-toekenning (in 2015 en 2016), het Dominique Swiegers, kopieskrywer van King James, nie net die voorreg gehad om verlede jaar ’n draai by die Cannes-reklamefees te maak nie, maar in Maart vanjaar was die interaktiewe, rolprent- en musiekfees, SXSW, in Austin, Texas in die VSA vir haar ’n leerskool soos min.

Opwindende en verrykende ervarings soos dié is ook vanjaar se algehele wenners beskore aangesien Pendoring se hoogste eerbewyse - die Prestige- en Umpetha-toekenning - elk ’n oorsese studiereis van ’n volle R100 000 behels.

 

Groot kanonne aangekeer vir die 2017 Pendoring-veldtog

 

Pendoring baan nie net die weg vir sy algehele wenners om hul reklamedrome te bewaarheid nie,  maar vanjaar het die skeppende span van die reklame-agentskap OpenCo ook by internasionale skeppende leiers aangeklop – legendes soos Joao Countinhou – Groep Skeppende Hoof, Grey, New York; Tom Paine – Skeppende Hoof, Y&R, Nieu-Seeland en Erik Vervroegen – Internasionale Kunshoof, TBWA Chiat Day, New York en hul deelname aan die 2017 Pendoring-veldtog verseker.

Dié drie skeppendes mag dalk hoog geag word in die bedryf vir hul reklame-insigte en skeppende vernuf, maar wanneer dit by Pendoring kom, gee hulle toe dat hulle oorbluf is.

Met die vertrekpunt dat net plaaslike mense dit sal snap, illustreer die 2017 Pendoringveldtog die punt dat deur die rykheid en veelsydigheid van Suid-Afrika se inheemse tale eksklusief te ontgin en ten toon te stel, Pendoring uniek en trots Suid-Afrikaans is.

Dít, omdat die inheemse en eg Suid-Afrikaanse insigte en die ryk inheemse diversiteit wat in Pendoring-inskrywings na vore kom, gans te ‘plaaslik’ is vir hulle om te snap...en wanneer dit vertaal word, gaan alles verlore, verduidelik OpenCo se Uitvoerende Skeppende Hoof, Carl Willoughby.

“Om op die 2017 Pendoring-veldtog te kon werk, was ’n groot voorreg en het ons in staat gestel om ons skeppende spierkrag te wys. Pendoring was die afgelope tyd toenemend in die kollig omdat die toekennings nou oop is vir alle inheemse tale en dit onderskei die toekennings van enige ander toekenningsgeleentheid in soverre dit eiesoortig en eg Suid-Afrikaans is.

“Dit het ons ook in staat gestel om plaaslike insigte te benut wat net uit ’n Suid-Afrikaanse oogpunt werk en ons is verheug dat ’n paar groot kanonne in die internasionale reklamewêreld bereid was om mee te doen om hierdie punt te bewys. Trouens, nadat ons die rede en missie van Pendoring en die toekennings se posisionering as eg en uniek Suid-Afrikaans aan hulle verduidelik het, het hulle onmiddellik ‘ingekoop’,” sê Willoughby.

 “Dit was ook lekker prettig om dié reklamelegendes met ’n rits kenmerkende Suid-Afrikaanse situasies ‘te konfronteer’, wat hulle openlik erken hulle glad nie begryp nie.

Die veldtog gaan grootliks sosiale media, digitale en direkte elemente behels, tesame met ’n herontwerpte webwerf met dieselfde voorkoms en gevoel.

 

Die Openco-span is:

 

Uitvoerende Skeppende Hoof: Carl Willoughby

Skeppende Hoofde: James Armstrong, Mark Northcroft

Mede- skeppende Hoof: Kyle Schoeman

Senior Kunshoof: Baran Hess

Kopieskrywers: Jason Hes, Nathi Sibanyani

Kunshoofde: Osmond Tshuman, Luzuko Witbooi

Ontwerper: Moshe Mogomane

 

Pryse

 

Slegs goue wenners kom in aanmerking vir die twee hooftoekennings – die Prestige- en Umpetha-toekenning. Elke goue wenner in elke kategorie ontvang R6 000 en silwer wenners ontvang R2 500 elk. Daarbenewens ontvang die handelsnaam agter die algehele wenner van die Prestige-toekenning gratis lugtyd ter waarde van R550 000 op kykNET, ’n platinum-Pendoringborg.

Albei algehele wenners in die Studentekategorie – vir die beste Afrikaanse werk én die beste werk in een van die ander inheemse tale – ontvang elk R10 000.

 

Belangrike datums

 

  • Advertensies wat van 1 Augustus 2016 tot 31 Julie 2017 uitgesaai/gepubliseer is, mag ingeskryf word.  Skryf in vóór 1 Augustus 2017 op www.pendoring.co.za
  • Die finaliste word op Dinsdag, 19 September 2017 aangekondig en die wenners op 27 Oktober 2017 by die glansryke gala-aand by Vodacom World, Midrand.

 

Sluit aan by die Pendoring Facebook-groep en volg @Pendoring_ op Twitter en gebruik die hutsteken #Pendoring2017. Instagram: pendoring_za

 

MEER OOR DIE REKLAMELEGENDES:

 

  • Joao Countinho, Groep Skeppende Hoof van Grey, New York, beskryf homself (op LinkedIn) as “ ’n geïntegreerde skeppende hoof wat oorspronklik argitek wou word, maar pleks van huise bou, het ek oplaas gehelp om handelsname te bou”.
    Countinhou se loopbaan strek oor vier lande: Portugal, Spanje, Brasilië en die VSA waar hy onder meer op handelsname soos Volvo, Canon, Verenigde Nasies, Audi, Coca Cola, Vodafone, Burger King, Unilever, Philips, Bosch, P&G en States United To Prevent Gun Violence, gewerk het.
    Sedert hy hom in 2014 by Grey aangesluit het, het dié agentskap onder sy leiding die mees bekroonde agentskap in die wêreld by Cannes geword, met altesaam 21 Leeus.
  • Voordat Tom Paine hom in November 2011 as senior skeppende hoof by Y&R, Nieu-Seeland, het hy by DDB NZ, Colenso BBDO en Ogilvy in Auckland, Nieu-Seeland gewerk.
    Hy het skeppende reklame aan die Media Design School (2003) en die Universiteit van Tegnologie in Auckland studeer.
    Paine was die skeppende krag agter Y&R, Nieu-Seeland, se internasionaal bekroonde “McWhopper”-veldtog vir Burger King, wat in 2016 groot bekendheid vir sy kantoor verwerf het.
    Hy is ook ’n gekwalifiseerde ski-instrukteur wat ’n seisoen in Vail, Switserland, deurgebring het. Nadat hy na Nieu-Seeland teruggekeer het, het hy die skihange vir reklametenders verruil.
  • Nadat sy reklameloopbaan in sy geboorteland, België, afgeskop het, het Erik Vervroegen, Internasionale Kunshoof van TBWA Chiat Day, New York, agentskappe in Suid-Afrika, New York en Parys gelei.
    Onder sy leiding is TBWA Parys vier jaar agtereenvolgens bekroon as Cannes Agentskap van die Jaar. Ná sy terugkeer na die VSA, het Vervroegen hom by Goodby, Silverstein & Partners in San Francisco aangesluit.
    Hy het op ikoniese handelsname soos Nissan, Playstation 2, McDonalds, The New York Times, Excedrin, BMW, Wonderbra, Land Rover en Rayban gewerk.
    Voordat hy in Junie 2016 teruggekeer het na TBWA Hunt Lascaris, New York, het Vervroegen die uitdaging aanvaar om internasionale skeppende hoof van Publicis Worldwide te word, op grond waarvan hy sy ervaring met agentskappe in Europa, Asië en Latyns-Amerika gedeel het. Vervroegen was al ’n beoordelaar of geleentheidspreker by elke belangrike internasionale reklametoekenningsgeleentheid.